Categories: NewsPublished On: 8th August 2011

Melkboere kwaad oor kaasinvoere

By 3 min read
644 words

Melkprodusente is ontsteld oor die invoer van aansienlike hoeveelhede cheddarkaas deur ‘n prominente melkverwerker in die Wes-Kaap. Daar word beweer dat meer as 100 ton gedurende Julie deur hierdie verwerker ingevoer is. Die MPO berig in sy jongste nuusbrief dat die onderneming een van die partye was wat produsentepryse in 2010 in teenstelling met marktendense verlaag het.

Dít na betwyfelbare statistieke op ‘n gereelde basis aan rolspelers in die sekondêre bedryf gesirkuleer is. Vroeg in Julie is berig dat melkprodusente in die Overbergdistrik gesê het dat verliese wat as gevolg van die lae produsentepryse gely is, daartoe gelei het dat 21 melkprodusente in die omgewing gedurende die afgelope ses maande uit die bedryf getree het. Volgens bronne in die bedryf het produsente dringende vergaderings met beide die verwerker en owerhede aangevra.

Clover kondig prysverhoging aan

Clover het ‘n verhoging van 15 sent per liter vir melkprodusente op die Hoëveld aangekondig. Dit volg op melktekorte wat tans veral in die binneland ondervind word. Melkproduksie tot einde Junie is soortgelyk aan produksie in die eerste helfte van 2010, die mark toon positiewe groei, invoere is laer en uitvoere hoër as verlede jaar. Internasionaal is produkpryse hoër as in 2010. Volgens die MPO-ekonoom, dr Koos Coetzee, is boere tans onder kostedruk en tensy hulle hoër pryse ontvang, sal hulle nie in staat wees om aan die totale markvraag te voldoen nie.

Gunstige resultate vir Parmalat SA

Die onlangs-gepubliseerde tussentydse finansiële state vir die eerste ses maande van 2011 van Parmalat SA toon dat die maatskappy gedurende hierdie periode uitstekende resultate behaal het. Omset het met 1,7% gestyg en wins met 6,7%. Volgens die state, het die totale verkoopsvolume met 3,6% gestyg, terwyl UHT-verkope met 6,6% gestyg het.

Roomys invoere uit Sjina ondersoek

Op die MPO en Agri Inspec se maandelikse vergadering, is daar uit Julie se invoerstatistiek opgemerk dat 33 ton roomys uit Sjina ingevoer is. Aangesien inligting wat tot die MPO se beskikking is aandui dat geen suiwelinvoere uit Sjina toegelaat word nie, is die saak aan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gerapporteer met ‘n versoek om ‘n dringende ondersoek hierna.

Volgens me Barbara Bieldt, MPO bestuurder van markbeskerming en -ontwikkeling, het die betrokke direktoraat onmiddellik gereageer en is ‘n ondersoek onderweg. Die MPO beskou hierdie saak in ‘n ernstige lig, aangesien die Sjinese suiwelbedryf sedert 2008 reeds ernstige probleme ondervind met suiwelprodukte wat melamien bevat. Verder is ‘n minimale aantal verdagte invoertransaksies uit die invoerstatistiek geïdentifiseer en Agri Inspec is gevra om hierdie invoere te ondersoek.

AgriSeta befondsing bevoordeel melkprodusente

Die AgriSeta ken tans diskresionêre fondse aan kommoditeitsorganisasies, insluitende die MPO, toe. MPO-lede kan nou by die Instituut vir Suiweltegnologie (IST) aansoek doen om enige van die volgende kursusse aan te bied: melkproduksie, kunsmatige inseminasie en/of sosio-ekonomiese bemagtiging. Die sosio-ekonomiese bemagtigingskursus is ‘n nuwe kursus wat deur die IST ontwikkel is en deur Agri SA en die TLU SA ondersteun word. Die kursus dek die huidige ekonomiese stelsels (met spesifieke verwysing na die vryemarkstelsel), produktiwiteit en die rol van die plaaswerker binne die waardeketting, die belangrikheid van werksetiek, motivering en die bestuur van persoonlike finansies. Die kursus is daarop gerig om plaaswerkers met die nodige vaardighede toe te rus om ekonomies-volhoubare lewenstyle te handhaaf. Skakel gerus vir Jas Wasserman by 082 490 2465 of stuur ‘n e-pos aan jas@mpo.co.za  vir meer inligting.

Plaasbestuurderskursus ook in Noorde aangebied

Na verskeie navrae van melkprodusente in die MPO Noord-omgewing, sal die gewilde suiwelplaasbestuurderskursus van 5 tot 7 Oktober 2011 in Pretoria aangebied word. Module 1 van die kursus dek Biosekuriteit-Kuddegesondheid en sal by die Universiteit van Pretoria se proefplaas aangebied word. Diegene wat belangstel om hierdie kursus by te woon, word versoek om so gou moontlik te registreer, aangesien hierdie kursus in groot aanvraag is. Vir verdere inligting, skakel Julie McLachlan by 083 740 2720 of stuur ‘n e-pos aan julie@cendel.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0