Categories: NewsPublished On: 9th July 2010

Melkboere haal maksimum wins uit weiding – met Rotrix kruipspuitbesproeiing

By 4 min read
858 words

Vir wins uit weiding is doeltreffende besproeiing noodsaaklik. Daarom speel Rotrix-kruipspuite ’n sleutelrol in die Jerseymelkboerdery van oom Danie Nel en sy seun, Sakkie, op hulle plaas, Eensaamheid, berg se kant toe van Buffeljagsrivier.

Vir die Nels was die goeie ou tyd in sekere opsigte maar sukkelrig: Destyds moes hulle besproeiing met goukoppelpype pleeg. Dit was net moontlik en lonend omdat hulle plaas binne marsjeerafstand van Buffeljagsrivier se tronk is, vanwaar ’n span bandiete elke dag gekom het om heeldag pype te skuif en te herstel, rekseëls te vervang en in die proses ’n groot deel van die gewasse te vertrap.

Toe bandietarbeid later gestaak is, moes oom Danie ’n ander plan maak. ’n Goukoppelpypstelsel is net lonend as jy goedkoop arbeid kan bekom. Buitendien is hy ’n regverdige man wat nie onskuldige werkers onverhoord tot ’n gesukkel met so ’n stelsel wou vonnis nie.

Oom Danie het ’n waterkanon probeer, maar jy moet die ding elke anderhalfuur loop verskuif, wat tydrowend was en nie dag en nag volgehou kon word nie.

Die oplossing was kruipspuitbesproeiing en vandag speel Rotrix-kruipspuite steeds ’n belangrike rol in Eensaamheid se sukses. Die Nels se oudste Rotrix is 25 jaar oud en hy werk net so goed soos die dag toe hy uit die fabriek gekom het.

Die nuwes is meer kompak, meer hanteerbaar en meer verstelbaar vir watertoediening vir verskillende behoeftes, maar Rotrix se basiese wenresep is nog net dieselfde toonbeeld van eenvoudige doeltreffendheid en betroubaarheid.

Onderhoud en herstelwerk aan ’n Rotrix is minimaal en maklik omdat die Rotrix so eenvoudig is, sê oom Danie.

“Enige mens kan ’n Rotrix verstaan en as daar dalk ’n fout kom, kan jy self sien wat verkeerd is en dit sommer regmaak ook. Daar is geen elektroniese goetertjies nie. As daar ’n probleem kom, is dit iets eenvoudigs soos ’n kabel wat deurgeroes het, ’n ketting wat na jare en jare se werk verslyt raak of ’n paddatjie of klippie in die spuitstuk. Of die toevoerpyp wat agter uitspring as jy hom nie goed ingehaak het nie.”

Eensaamheid kry sy water uit die Buffeljagsrivier se besproeiingskema en het ’n balanseerdam op die plaas vanwaar water met swaartekrag na die besproeiingstelsels gevoer word. Omdat die Rotrix net deur waterdruk aangedryf word, beteken dit dat dié spuite lustig voortwerk terwyl alles anders as gevolg van beurtkrag staan.

 ’n Rotrix werk normaalweg só: Jy maak staan hom aan die een kant van die land, rol sy staal-sleepkabel uit en maak dit aan ’n ysterpen oorkant die land vas, koppel die Rotrix se eie waterpyp aan die toevoerkraan, draai die kraan oop en siedaar – daar gaat jou Rotrix aan’t natspuit.

’n Klein straaltjie water dryf ’n bakkieswiel aan wat die staalkabel inkatrol en so sleep jou Rotrix homself stadig na die oorkant van die land op sy een slee en twee wiele om ’n breë strook van 200 meter lank deeglik te besproei. So ver as wat hy loop rol sy toevoerpyp van die katrol af.

Sodra hy die einde van die land bereik, gaan staan hy vanself sodat dit nooit vir jou nodig is om jou Rotrix op jou buurman se plaas te loop soek nie. Nou ontkoppel jy sy waterpyp, rol hom op, verskuif die Rotrix na die volgende vak en sit die hele proses weer van voor af aan die gang.

Slim boereplan

Maar die Nels het ’n gawe plan bedink om sake nóg makliker en vinniger te maak deur die pypoprollery uit te skakel. Hulle het in die middel van elke vak ’n waterpunt met ’n permanente 50 mm Klas 6 swart pyp aangebring. Die pyp kan tot op albei punte van die vak bykom.

Wanneer die kruipspuit klaar is met ’n vak, maak hulle bloot die pyp los, laat hom net daar lê, beweeg net die masjien na die volgende vak en koppel hom aan dié vak se pyp wat daar vir hom lê en wag.

Dit maak die aanvanklike koste hoër, maar nou kan een man met een vierwielmotorfietsie die masjien binne enkele minute skuif en voortgaan met sy ander werk.

Rotrix is in die besproei­ingsbedryf om te bly, glo oom Danie. Hy kom plekke by wat ongemaklik is met ander stelsels, hy is perfek vir aanvullende besproeiing en hy is die antwoord vir boere wat nie die geld het om spilpunte of permanente besproeiingstelsels op te rig nie.

Boonop kan jy ’n Rotrix maklik van een land na ’n ander of selfs van een plaas na ’n ander verskuif en enige plek ontplooi.

En om alles te kroon kan jy deurgaans staatmaak op Rotrix se kundigheid en flink diens. “Rotrix se mense verstaan die boer.”

Vir meer inligting oor Rotrix se waterwonder, skakel Jeremy Hewitt of  Jasper Hewitt  Rotrix Africa Besproeing by
023-342-3438 of stuur ’n faks aan  023-342-8469.   Epos: rotrix@intekom.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0