Categories: NewsPublished On: 3rd November 2011

Marinda-Visser-sluit-eersdaags-by-Graan-SA-aan

By 1 min read
Graan SA het bekend gemaak dat dr Marinda Visser op 1 Januarie 2012 by sy personeel sal aansluit as Bestuurder Bedryfsdienste. Sy volg mnr Nico Hawkins op, wat aan die einde van 2011 die diens van Graan SA verlaat.
 
Dr Visser is tans werksaam as Hoofdirekteur by die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.  
 
“Ek het ‘n lang verbintenis met Marinda en het haar oor jare met belangstelling dopgehou tydens internasionale onderhandelinge,” het mnr Jannie de Villiers, Uitvoerende Hoofbestuurder, gesê.  “Haar aanstelling is ʼn integrale deel van die nuwe strategie wat Graan SA volg om nader aan die regering te beweeg rakende oplossings vir belangrike kwessies soos voedselsekerheid, werkverskaffing en volhoubare transformasie.” 
 
Dr Visser het op Prieska groot geword en het haar PhD in 2003 as plantpatoloog by die Universiteit van Pretoria verwerf. Daarna was sy vir agt jaar by die Landbounavorsingsraad werksaam. 
 
Graan SA het gesê sy is bekend in die Departement vir haar ywer om marktoegang vir Suid-Afrika te beding en was in die laaste tyd baie gemoeid daarmee om Sjina so ver te kry om Suid-Afrikaanse mielies te koop – ʼn doelwit wat sy gemaklik binne Graan SA sal kan voortsit tot voordeel van Suid-Afrikaanse boere. 
 
Graan SA het gesê dr Visser se goeie bande en verhoudings met kollegas in ander staatsdepartemente en in ander lande sal ʼn groot aanwins vir sy bestuurspan wees. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0