Categories: NewsPublished On: 11th November 2011

Malema se trekpas word verwelkom

By 2 min read
Die omstrede jeugleier van die ANC is uit die party geskop. Die uitspraak van die ANC se dissiplinêre komitee, teen Julius Malema en ander lede van die jeugliga wat geskors is, volg op ‘n dissiplinêre verhoor wat weke geduur het.
 
Mnr Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie gesê Malema was die afgelope twee jaar die grootste polariserende faktor in die land en sonder hom op die toneel sal dit baie makliker wees om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder.
 
Mnr Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê hulle is ontevrede oor die feit dat Malema onskuldig aan die klag van rassisme bevind is, terwyl die howe hom wel skuldig bevind het, en waar die Gelykheidshof selfs sy liedjie “Skiet die Boer” tot haatspraak verklaar het, wat die uiterste vorm van rassisme is.  
 
“Die ANC het nou ’n goue geleentheid om ’n skoon breuk met die Malema-era te maak deur van die geleentheid gebruik te maak om die appél teen die Gelykheidshof-uitspraak terug te trek, en om homself te distansieer van die Malema-uitsprake van nasionalisering, wat nie net die ANC nie, maar die hele land, geweldige skade berokken het,” het mnr Meintjes gesê.
 
Ds Theunis Botha, leier van die CDP, het gesê die skade wat Malema aan die land in terme van polarisasie en beleggersvertroue aangerig het, is onmeetbaar.”
 
Indien Malema se skorsing tydens sy appèl-aansoek nie omgekeer word nie, sal hy volgens mnr Kriel nie meer  ʼn rolspeler wees wat ernstig opgeneem hoef te word nie. 
 
“Malema het sy steun oorskat en sy prominensie was slegs gebaseer op die feit dat hy as senior leier in die regerende party polarisende uitsprake gemaak het,” het Kriel gesê.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0