Malema-kry-weer-pak-in-die-hof
Die Grondwetlike Hof het verlede week die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, se aansoek om direkte toegang tot dié hof te kry, om teen die uitspraak van regter Colin Lamont in die Gelykheidshof te appelleer, van die hand gewys.
Die regbank het beslis dat dit nie die belange van die reg dien om die saak aan te hoor nie.
Regter Lamont het reeds verlof toegestaan dat die saak na die Appèlhof verwys mag word.
AfriForum se regsverteenwoordiger, mnr Willie Spies, het in reaksie gesê AfriForum het nou reeds die eerste, tweede en derde rondte van die hofstryd teen Julius Malema se haatspraak gewen en dat die organisasie daarna uitsien om die volgende rondte in die Appèlhof in Bloemfontein ook te wen.
In sy reaksie het mnr Louis Meintjes, President van TLU SA, gesê die uitspraak van die Grondwetlike Hof stuur ’n sterk boodskap uit na diegene wat nie kan onderskei tussen haatspraak en die voorskrifte van die wet nie.
“Ons is van mening dat die uitspraak van Regter Lamont, ondersteun deur ander uitsprake deur Regter Halgryn en Regter Bertelsmann, in ander soortgelyke sake wat in hoër howe gedien het, die onaanvaarbaarheid van haatspraak in geen ondubbelsinnige woorde veroordeel het nie” het mnr Meintjes gesê.