Maatskappye-werk-saam-om-kuikens-op-te-beur
Ashkan Consulting het met Bayer Dieregesondheid Suid-Afrika saamgespan om die Avi Boost™-reeks vir Suidelike Afrika te ontwikkel.
Die Avi Boost produkte maak gebruik van vloeibare nukleotiede tegnologie. Volgens die vervaardigers is dit reeds bewys dat die produkte die prestasie van pluimvee aansienlik verbeter.
Die reeks wat tans beskikbaar is bestaan uit drie produkte:
- Pluimvee tonikum met nukleotiede
- Nutri-blok
- Aqua-blok
Die pluimvee-tonikum met nukleotiede is ‘n gekonsentreerde vloeibare aanvullende voedingstof wat vitamiene, spoor-elemente, essensiële vetsure, essensiële aminosure en elektroliete met bykomende nukleotiede bevat.
Die produk is ontwikkel as ‘n hulpmiddel om swak en stadig groeiende kuikens wat deur spanning en ander toestande geknou word ‘n hupstoot te gee.
Omdat dit eenvoudig in die drinkwater opgelos word is dit maklik om te toe te dien. Dit verstop ook nie die drinklyne nie en produseer nie biofilms nie. Mens moet egter net seker maak dat die drinklyne en tenks skoon en vry van biofilm is voor toediening.
Die ander twee produkte in die reeks is beide gekonsentreerde vloeibare blokke (gel blokke) wat ook elektroliete, vitamiene, spoor elemente, essensiële vetsure, aminosure, nukleotiede en prebiotika bevat om die vriendelike bakterieë te stimuleer.
Hierdie blokke word spesiaal saamgestel om jou kuikens se weerstand van hulle eerste dag af aan te help.
Nutri-blok bevat ‘n drievoudige energie bron wat die hidrasie en die opkikkering van kuikens tydens vervoer en oorhandiging bewerkstellig.
100g van óf Nutri-blok óf Aqua-blok behoort genoeg te wees vir 100 kuikens vir ‘n reis van twee tot drie uur en sal nie die voëls se vere nat maak nie. Dit spat nie en smelt nie onder 40ºC nie.