Maak-nou-reg-vir-die-winter:-Midmacor-se-Buffel-vuurvegter
“Cocenille (karmynluis) is mos ’n ding met sewe lewens. Dis hoekom ek my Buffel op my turksvye ook gebruik.”
Aan die woord is Danie van Tonder van die plaas Waterkloof, so 20 kilometer wes van Bloemfontein. Hy is een van die tevrede eienaars van ’n Midmacor-vuurvegter wat hy by Massey Ferguson Bloemfontein gekoop het.
Danie is nie ’n man wat hou van sukkel of dat toerusting op die plaas ledig rondstaan nie. Die hoëdruk vuurvegter, het hy toe gevind, is nie net ideaal vir brandbestryding nie, maar ook om sy turksvyland skoon te hou van daardie geharde pes, karmynluis.
“Wat lekker is, is dat ek hom sommer so op ’n waentjie gekoop het. Ek haak hom net agter my bakkie en dan is ons reg vir enigiets, of dit nou ’n brand is of ’n pes.”
Danie vertel dat die waentjie lekker stewig gebou is en net so gemaklik teen 120 kilometer per uur op die teerpad draf as wat hy in die veld ry. Die waentjie is ook geregistreer en kan dus wettig op die grootpad beweeg.
Boere het ’n keuse of hulle hom op ’n waentjie wil hê of self op die plaas ’n plan wil maak.
Nog ’n groot voordeel is die feit dat die Buffel twee gedugte spuite het. “Dit maak nie saak waar jy staan nie, jy kan orals bykom,” sê hy.
Oor die betroubaarheid van die Honda-enjn sê hy net kort en kragtig: “Ek het nog nooit moeilikheid gehad nie.”
Die Buffel is Midmacor se eerste vuurvegter wat al 30 jaar terug ontwikkel is. Dit was en is nog steeds ’n sterkgeboude kanniedood wat elke jaar op plase regdeur die land boere se weiding en gesaaides uit die kloue van brand red.
Die besturende direkteur van Midmacor, Alwyn Coetsee, sê van daardie eerste modelle word vandag nog gebruik. Nog iets wat die toets van tyd deurstaan het, is die Sanchin-pomp wat nog altyd op die Midmacor-vuurvegters gemonteer word.
Alwyn sê: “Die pomp bied die perfekte kombinasie tussen druk en lewering. ’n Vuur het suurstof nodig om te brand en met die Sanchinpomp se hoë druk word die suurstof verplaas op die punt waar die waterstraal spuit.
Die vuur vrek as gevolg van die gebrek aan suurstof. Die fyn watersproei verseker dan terselfdertyd dat die vuur nie weer opspring nie.”
Neels Hamman van Massey Ferguson in Bloemfontein verduidelik verder: “Die Buffel gee vir jou hoë druk, maar gebruik minder water. Dit maak dit ideaal vir grasbrande. Die laerdrukspuite word eerder vir bosbrande gebruik.”
Met sy 650 liter tenk kan die Buffel meer as ’n uur se vuurvegtyd gee voor dit nodig is vir hervulling. Dit is natuurlik ook waarom dit so nuttig is om die vuurvegter op ’n waentjie te laat monteer, want dan kan dit gerieflik en vinnig tot by die naaste waterpunt gesleep word.
Nog ’n groot pluspunt vir Midmacor se vuurvegters is dat die tenks met ’n swart plastieklaag uitgevoer word wat algegroei voorkom. Wanneer die vlamme kosbare weiding verteer en dier en mens bedreig, kan daar nie nog gesukkel word met pype en spuitstukke wat verstop is deur alge nie. Die water moet daar wees en sterk wees.
Neels sê by Massey verkoop hy graag ’n Midmacor-vuurvegter aan die boere, want hy weet ook die tenk sal hou. “Die wande is van sterk plastiek en goed bestand teen die son, wind en weer. Dit het al te veel gebeur dat ’n ou dringend ’n vuurvegter nodig het, net om agter te kom dat die tenk gekraak is. Met die Buffel gebeur dit nie,” sê hy.
Die tenk het nog ’n voordeel waarvan boere dalk nie eers bewus is nie. Alwyn verduidelik dat die tenkbodem se vorm so ontwerp is dat die beweging van die water in die tenk nie die voertuig van balans gooi terwyl dit ry nie.
Met ander tenks het dit al talle kere gebeur dat boere voertuie op hoë spoed omgooi as gevolg van die beweging van die water.
Midmacor het ook medium- en laedruk vuurvegters wat by handelaars landwyd beskikbaar is. Vir grasbrande waar hoë druk nodig is, is dit net nodig om een naam te onthou: Buffel.
Vir meer inligting oor Midmacor se vuurvegters, skakel gerus vir Neels Hamman by Massey in Bloemfontein. Sy nommer is 082-558-4456 of Alwyn Coetsee by 083-271-4951