Maak nou al gereed vir brande
![]() |
Veldbrandvoorsorg moet nou reeds getref word het mnr Wouter Hoffman van die Soutpansbergdistriklandbou-unie gesê. Die veldbrandgevaar is vanjaar buitengewoon hoog weens die laat reëns het hy gesê. Gevolglik moet grondeienaars nie wag met die maak van brandpaaie nie. Hulle moet ook solank hulle vuurvegtoerusting in orde kry.
Die wet plaas ‘n verpligting op die grondeienaar om brandpaaie te maak en in stand te hou. Daar is ook toepaslike voorskrifte vir die maak van brandpaaie wat nagekom moet word. Die bure moet byvoorbeeld ingelig word. Daar moet voldoende voorsorg getref word sodat die brand nie buite beheer raak nie. Nog ‘n belangrike voorskrif is dat die brandstroke nie gronderosie mag veroorsaak nie.
Brandpaaie is die eerste linie-optrede
Mnr Hoffman het gesê dat veldbrande nie grense ken nie. Grondeienaars van dieselfde omgewing is almal kwesbaar wanneer ‘n brand uitbreek. Hy het ‘n beroep op boere gedoen om nie toe te laat dat die gunstige toestande wat tans heers daar toe aanleiding gee dat hulle nalaat om voorsorg vir die brandseisoen te tref nie. “Grondeienaars moet seker te maak dat hulle brandpaaie in plek is” het hy gesê.
Mnr Hoffman moedig ook grondeienaars aan om met hulle plaaslike boereverenigings te skakel om reëlings te tref ten opsigte van die bestryding van brande op hulle grond. Veral grondeienaars wat nie permanent op hulle grond woon nie moet hieraan aandag gee het hy gesê.