Categories: NewsPublished On: 6th February 2012

Maak ‘n blink plan vir krag

By 4 min read
773 words

Met die voortdurende styging in koste van elektrisiteit raak dit al hoe noodsaakliker om iets prakties en bekostigbaars te doen om daai groot rekening se teuels in te trek.  

Mark Tiepelt van BiogasSA skryf:

Op ‘n plaas is daar baie keer min moontlikhede om minder krag te gebruik, maar daar geen rede waarom die huishoudelike verbruik nie gesny kan word om te help met die totale rekening nie.

Aangesien die elektriese waterverwarmer verantwoordelik is vir tot 40% van ons huishoudelike elektrisiteitsverbruik, bly dit steeds die mees doeltreffende beginpunt vir kragbesparing. Daar is ‘n hele paar moontlikhede wat begin by die afskakel van die toestel wanneer dit nie gebruik word nie. ‘n Tydskakelaar of beheerder wat aan jou bestaande elektriese waterverwarmer gekoppel kan word, kan ‘n besparing van tot 38% kan meebring. Teen ‘n koste van ongeveer R1 000 is so ‘n beheerder nie ‘n slegte belegging nie!

Sonwaterverwarmers raak ‘n algemene gesig. Deesdae raak die lae-druk toestelle al hoe meer gewild en is daar reeds 100 liter eenhede (uit vleklose staal vervaardig) wat beskikbaar is teen onder R2 500. Dit beteken dat ‘n huishouding met ‘n gemiddelde elektrisiteitsrekening van R1 000 per maand binne 12 maande sy geld terugmaak. Daar is ook nuwe hittepomptoestelle beskikbaar met ‘n geïntegreerde 190 liter hoëdrukwaterverwarmer vir R12 000 – en jy kry dan nog R3 680 terug van Eskom!  Hierdie eenheid het selfs die moontlikheid om koue lug wat in die proses gegenereer word, terug in die huis in te blaas!
 
Beligting deur liguitstraaldiodes (LUD’s) raak ook al hoe beter en goedkoper en deur al jou bestaande ligte met LUD-beligting te vervang, kan ‘n verdere besparing van tot 15% meegebring word.

Wees ook meer kieskeurig wanneer jy yskaste, wasmasjiene en ander huishoudelike toestelle aankoop, daar is ‘n geweldige verskil in elektrisiteisverbruik tussen energiedoeltreffende eenhede en gewone standaardeenhede (150 W teenoor 1 200 W).  Ongelukkig kry Suid-Afrika steeds al die ondoeltreffende eenhede aangesien dit onwettig is om sulke eenhede in Europa, Amerika of Australië te verkwansel. Suid-Afrika het nog geen sulke wetgewing nie!  

Sonvervaardigde elektrisiteit, algemeen bekend as foto-voltaïse krag, begin deesdae ook meer aantreklik te lyk. Vier jaar gelede was die terugbetalingsperiode op ‘n sonpaneelstelsel tot 25 jaar. As gevolg van dalende tegnologiepryse en verhoogde elektrisiteitskoste, kan jy nou na 7- 8 jaar jou geld terugkry. ‘n Mens kan ook met ‘n kleiner stelsel begin en dit dan modulêr vergroot soos die begroting dit toelaat. Sonkrag kan ook aangewend word om boorgatpompe aan te dryf.

Tegnologie wat deesdae baie aanklank vind is die opwekking van biogas. Biogas word verwek deur die anaerobiese vertering van enige vorm van organiese afval (menslik, dier of gewasse). Die biogas wat so verwek word bestaan hoofsaaklik uit metaangas wat ‘n ontvlambare gas is en aangewend kan word net soos propaangas, beter bekend as LPG (die gas in die bekende gasbottels).

Dit is belangrik om te onthou dat LPG en biogas nie onderling uitruilbaar is nie, aangesien biogas uit slegs 60% metaangas bestaan (die balans is CO₂), wat dit minder brandbaar maak as LPG.  LPG-toerusting kan aangepas word om op biogas te werk, maar dit is nie maklik nie. Daar is reeds doelgemaakte biogas-toerusting soos stowe, ligte, warmwatertoestelle en kragopwekkers beskikbaar.

Veral vir mense op kleinhoewes en plase waar daar genoegsame afval beskikbaar is, is biogas ‘n lewensvatbare alternatief.  ‘n Verdere voordeel van biogas is dat die afval vanuit die proses organiese kompos lewer wat weer baie nuttig aangewend kan word in die tuin of op gewasse.

Daar is selfinstalleer eenhede beskikbaar vanaf R7 500 wat tot 4m³ biogas per dag kan genereer, genoeg om ‘n 2-plaat stoof vir 4 ure te laat brand!

Dit is moeilik om presies vooraf die omsettingsverhouding en opbrengs te bepaal, aangesien dit baie afhang van watter tipe afval en hoeveel daarvan beskikbaar is. Rofweg bereken kan die mis van elke 2 beeste of 7 varke of 150 hoenders onderskeidelik 1 m³ biogas opwek en 1m³ biogas gee weer 1 uur se kooktyd op ‘n 2-plaat biogasstoof. Omgeskakel na elektrisiteit, kan 1m³ biogas 1,5 – 1,7 kWh se krag lewer.

Daar is tans ‘n paar projekte aan die gang spesifiek gemik op die groter melkboere, waar dit finansieel lewensvatbaar is om boere totaal onafhanklik van Eskom te maak. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het ook voorkeurfinansiering vir hierdie projekte beskikbaar.

Teen ongeveer R20 000 kan ‘n boer ook 30m³ biogas”sak” bekom wat tot vier werkershuise van biogas vir kook, ligte en warm water kan voorsien.

Lees in ProAgri144 meer oor moontlikhede vir kragbesparing en alternatiewe kragbronne. (Foto: Solavent).

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0