Maagvirus-in-Europa-het-niks-met-voerkrale-te-doen-nie
Dit is nie eers die moeite werd om te reageer op ‘n artikel wat die rondte doen waarin beweer word dat die uitbreking van ‘n e-coli verwante siekte in Duitsland iets met die gebruik van antibiotika in voerkrale te doen het nie. Dit is die mening van mnr Dave Ford, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging.
Hy sê in die eerste plek bestaan daar nie kommersiële voerkrale in Duitsland nie, die veeprodukte word deur melk- , vark- , hoender- en vleisboere geproduseer.
Die berig, wat deur die “natural news” webtuiste versprei word, beweer dat die sogenaamde fabrieksdier-operasies die diere in sulke swak omstandighede aanhou dat hulle vol antibiotika gepomp moet word om die verspreiding van infeksies te verhoed. Die konstante toediening van antibiotika veroorsaak dan glo die ontstaan van sogenaamde “superbugs”.
Volgens die berig word die kieme uitgeskei en as deel van die diere se mis as bemesting vir gewasse gebruik. Dit is dan waar die siekte vandaan sou kom wat nie deur gewone antibiotika behandelbaar is nie.
Mnr Ford sê hy gaan nie eers probeer om op die skeefgetrekte berig te reageer nie, maar hy kan aan Suid-Afrikaanse verbruikers die versekering gee dat daar Goeie Bestuurspraktyke in plek is by voerkrale.
Hy sê die stel en toepassing van GBP’s is die verantwoordelikheid van die eienaar hetsy of dit ‘n voerkraal of ‘n veeboerdery is. “Die meeste voerkrale in SA besit òf sy eie abattoir òf het aandele in ‘n abattoir en dit is in sy beste belang om die korrekte prosedures toe te pas anders kan sy produk se naam daaronder ly.”
Hy sê elke kommersiële voerkraal maak gebruik van die dienste van of ‘n konsulterende veearts of ‘n inhuis-veearts wat omsien na veeartsenyprosedures, uitreiking van voorskrifte vir geregistreerde medisyne, behandelingsmetodes, medisynevoorraadbeheer en onttrekking van behandeling.”
Die saamstel van rantsoene, koop van bestanddele, voormengsels en bymiddels vind volgens die voorskrifte van ‘n voedingkundige plaas wat gereeld die produksie van die diere monitor.
So ook maak die meeste voerkrale gebruik van ‘n omgewingskonsultant om toe te sien dat die Waterwet en omgewingsbeheerwetgewing nagekom word.
Mnr Ford sê elke lewendehawe bedryfsvertakking behoort erns te hê met die lewering van gesonde en veilige produkte aan die verbruiker. Bedryfsorganisasies kan hulle lede in die verband help.