Louis Trichardt: Impakstudie kom onder skoot
Die Voorsittersvereniging van Louis Trichardt het sy voorbehoud oor die omgewings-impakstudie vir ‘n nuwe rioolplaas bekendgemaak.
Meneer André Naudé, die vereniging se voorsitter het in ‘n brief sy misnoë aan Tekplan Consultants, die stadsbeplanners en omgewingskonsultante wat die studie uitgevoer het, uitgespreek.
Hy bevraagteken dit dat die beoogde rioolplaas hogenaamd groot genoeg vir die dorp se toekomstige behoefte is. Tans is daar sprake van besoedeling van die vleigebied naby Eltivillas en ook besoedeling naby die industriële gebied. Na bewering kom daar ook besoedeling van die slagpale af. Die verslag meld bloot dat geen rekords hieroor beskikbaar is nie.
Verder maak hy in sy brief beswaar teen die rioolpyp van Tshikota af wat reeds voltooi is sonder dat enige omgewings-impakstudie in die verband gedoen was, of voordat die rioolwerke in geheel finaal goedgekeur was.
Hy sê dit blyk dat die omgewings-impakstudie bloot as ‘n rubberstempel dien en dat besware uit die gemeenskap nie ernstig opgeneem word nie.
Hy het ook beswaar daarteen gemaak dat die beoogde rioolplaas gebou gaan word in die omgewing van boorgate wat ‘n deel van die dorp van water voorsien. Indien die beplanning en bestuur van die toekomstige aanleg nie professioneel gedoen word nie, kan die dorp se waterbronne permanent besoedel raak, het hy gewaarsku.
Daar is vele getuienis van regoor die land dat min munisipaliteite die vaardighede het om rioolwerke te bestuur. Die verslag neem die toestand van sake glad nie in ag nie, en daar bestaan geen plan om te volg indien die aanleg nie volgens spesifikasies bestuur word nie, aldus meneer Naudé.
Boere in die omgewing het al by ‘n paar geleenthede hulle kommer uitgespreek oor die besoedeling van water wat vir landbou gebruik moet word. Die grootste probleem is dat die stadsraad se infrastruktuur nie die ongebreidelde uitbreiding van woongebiede kan hanteer nie.