Los BTW op tolgeld vra AfriForum
AfriForum het vandag die ministers van Vervoer en Finansies en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap skriftelik versoek om toe te sien dat tolgeld van BTW vrygestel word.
Sou daar aan die versoek voldoen word sal dit ook welkome nuus vir boere wees wat reeds gebuk gaan onder die hoë brandstofprys om hulle produkte aan die Gautengse mark te lewer.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beteken die heffing van BTW op tolgeld dat motoriste wat tolpaaie gebruik, vyfvoudig belas word. “Benewens inkomstebelasting, brandstofheffings, motorlisensies en tolgeld wat motoriste moet betaal, word daar ook van hulle verwag om BTW op tolgeld te betaal.”
Gesien in die lig daarvan dat Gauteng se hoofwegverbeteringsprojek deur lenings gefinansier word en dat daar dus nie ʼn sent uit die staatskas daarvoor gaan nie, is dit geheel en al onbillik dat die staat nog BTW ook daarop hef, het meneer Kriel gesê.
Die opheffing van BTW op tolgeld sal volgens meneer Kriel nie net help om die ekonomiese druk op die gebruikers van tolpaaie te verlig nie, maar ʼn bydrae lewer om te verseker dat alle verbruikers van produkte wat op dié paaie vervoer word, nie nog harder getref sal word deur stygings in dié produkte se pryse nie.