Liggingsdifferensiaal verlaag, maar steeds omstrede
Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) het aangekondig dat die aanvanklike aanpassings aan die mielie-differensiaal verlaag is nadat sekere inligting van silo’s bygewerk is. Die aanpassing toon nou ’n gemiddelde toename van R28 per ton, waar dit vroeër R36 per ton was. Dit beteken dat die gemiddelde prys vir lewering van Randfontein af op R178 te staan kom. Die nuwe inligting het tot gevolg gehad dat sommige silo’s se koste met 45% gestyg het en ander met 18% gedaal het.
Graan SA het ondertussen in ‘n verklaring gesê dat dat hy kennis neem van die verlaging, maar dat die aanpassings steeds baie hoog is.
Die veranderinge het gevolg op ‘n vergadering wat Graan SA en ander rolspelers met die JSE aangevra het na aanleiding van groot ongelukkigheid oor die aanvanklike aankondiging. Nuwe en beter inligting is ingewin en ‘n herberekening is gemaak. Die gemiddelde styging het gevolglik met R8/t afgekom. Die verlaging is ‘n besparing vir produsente van amper R90 miljoen, maar steeds gaan sommige produsente baie meer opdok as ander.
Die inligting wat ‘n invloed uitgeoefen het, gaan hoofsaaklik oor meer gereelde spoorvervoer. Volgens die JSE het GWK se Modderrivier- en Barkly-Wes-silo byvoorbeeld nie inligting oor spoorvervoer in die eerste ronde opnames verskaf nie.
Mnr Jannie de Villiers, die hoofuitvoerende beampte van Graan SA, sê baie van die ongelukkigheid kon voorkom gewees het indien die JSE net sy advieskomitee oor die saak geraadpleeg het.
Hy sê Graan SA is bewus daarvan dat vervoerkoste die afgelope maande aansienlik gestyg het. “Die liggingsdifferensiaal bly omstrede en die voortbestaan daarvan sal waarskynlik in die komende maande weer gedebatteer moet word.”
Mnr Chris Sturgess, die hoofbestuurder van kommoditeitsafleidings by die JSE, sê: “Ons is slegs ’n handelsplatvorm wat prysrisiko-bestuursinstrumente verskaf. As álle belanghebbendes so ’n verandering ondersteun, sal ons graag daarna kyk.”