Categories: NewsPublished On: 13th June 2011

Landelike-veiligheid-kry-steun

By 2 min read

Die veiligheid van ongeveer 720 boere en 6500 plaaswerkers in die Ellisras/Lephalale-gebied het ‘n hupstoot gekry deur ‘n geldelike skenking van die Agri Securitas Trustfonds vir die oprigting van ‘n radio-kommunikasienetwerk. 

Die Landelike Beveiligingsplan vir die dié gebied maak voorsiening vir ‘n Landelike Veiligheidsforum wat ‘n gesamentlike krisisbeheersentrum en operasionele sentrum op die been gebring het. Die werksaamhede van die forum in belang van die boerderygemeenskap word deur die plaaslike polisie ondersteun en die kommunikasienetwerk sal die werk van die polisie en nooddienste in die gebied aansienlik verbeter. 
 
Die netwerk sal die gemeenskap in staat stel om vinnig te reageer in noodsituasies soos plaasaanvalle, vee- en wilddiefstal en selfs renoster stropery. Die grootte van die gebied wat nagenoeg 19 000 km² beslaan noodsaak ‘n moderne radiokommunikasienetwerk om onder andere lugondersteuning te aktiveer wanneer nodig. 
 
Van Zylsrus kry ondersteuning
Terselfdertyd is radiotoerusting ook geskenk aan die Van Zylsrus landbouvereniging in die Noord-Kaap om hulle plaaslike polisie in staat te stel om met boere in die gebied te kan kommunikeer”, sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds. 
 
Kommunikasie met die polisie in Van Zylsrus bly ‘n probleem aangesien die polisie nie oor die nodige radiotoerusting beskik om effektief met die boerderygemeenskap te kommunikeer nie. Goeie werksverhoudinge bestaan tussen die boerderygemeenskap en die polisie en daarom het die Trustfonds radio’s aan die landbouvereniging beskikbaar gestel vir aanwending deur die polisie om met boere te kan kommunikeer. 
 
Die gebied grens aan Botswana en veediefstal asook diefstal van koper kom gereeld voor. 
 
Agri Securitas Trustfonds
“Dit is die strewe van die Agri Securitas Trustfonds van Agri SA om aanvullende finansiële hulpmiddele aan die landbougemeenskap beskikbaar te stel om landelike veiligheid te verbeter. ”,het meneer Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds gesê. “Daar is reeds meer as 100 sodanige projekte landswyd deur die Fonds finansieel ondersteun in ‘n poging om landelike misdaad te bekamp en ‘n veiliger omgewing vir die boerderygemeenskap te skep” het meneer Grobler gesê. 
 
Beradingsdienste
Die Agri Securitas Trustfonds is vir die afgelope 5 jaar aktief betrokke by die finansiering van trauma werkswinkels wat deur Reformanda Beradingsdienste aan boeregemeenskappe verskaf word. 
 
Die sukses van die traumawerkswinkels is daarin geleë dat landbougemeenskappe wat nie altyd naby ondersteunende dienste is om hulle emosionele probleme aan te spreek nie, nou van die dienste van Reformanda gebruik kan maak. 
 
Die Trustfonds het pas sodanige werkswinkels wat in Leeudoringstad en Ermelo gehou is, finansieel ondersteun. Volgens meneer Grobler kan gemeenskappe wat van die diens gebruik wil maak, met die onderskeie provinsiale organisasies van Agri SA skakel.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0