Landboustudente skitter: ‘Ek wil in diepte betrokke wees’
Altesaam 189 studente van die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding: Elsenburg het Saterdag 7 Desember hulle sertifikate, diplomas en grade na voltooiing van hulle onderskeie leerderskapprogramme, diploma- en graadstudies ontvang.
Jana , van Moorreesburg in die Wes-Kaap, en Conrad Viljoen by Dewetsdorp in die Vrystaat, het albei hulle B Agric-graad ontvang.
Die drie jaar B Agric-graad van die Universiteit Stellenbosch word op Elsenburg aangebied. Jana, een van vanjaar se Dux-studente, het die Nasionale Wolkwekersvereniging (NKWV) se toekenning vir die beste student in Dieregesondheid: Grootvee gekry, terwyl Conrad die toekenning vir die beste student in Dieregesondheid: Kleinvee ontvang het.
Jana: Kan nie genoeg kry van Nguni’s nie
“Ek het die voorreg gehad om 12km buite Moorreesburg in die Wes-Kaap op ons familieplaas, Skilpadvlei, groot te word,” vertel Jana. Die plaas is al sedert 1866 in die Slabberfamilie.
“Ons het elke oggend die grondpad aangepak na die Hoërskool Dirkie Uys op die dorp, dieselfde skool waar my pa, John, skoolgegaan het. Ek het selfs party van dieselfde onderwysers as my pa gehad!”
Sy beskryf haar pa John as ‘n passievolle graanboer wat bekend is vir sy bewaringslandbou, en haar ma Anna as ‘n toegewyde, liefdevolle, voltydse ma. “Ek is die oudste van drie kinders – my suster Lisa is drie jaar jonger en my broer Jac tien jaar jonger. My oupa Koos, saam met wie ek baie tyd op die stoep deurgebring het terwyl hy sy pyp rook, is oorlede net voor ek drie geraak het. Hy was baie lief vir sy skape en ek wonder soms of my liefde vir vee van hom af kom…”
Sy het B Agric in Plant- en Diereproduksie by die “wonderlike Elsenburg” studeer. “My sê-ding van kleins af was dat ek buite en met diere wil werk. Later het ek geleer dat hierdie ‘diere’ meer spesifiek vleisbeeste is.
“My liefde vir kennis van die fyner besonderhede het my gelei om ‘n graad te wil voltooi; ek het eers oorweeg om ‘n veearts of dieregesondheidstegnikus te word, maar het besef dat my hart daarby lê om elke dag met dieselfde kudde te werk en te sien hoe dit verbeter – ek wil in diepte betrokke wees.
Elsenburg was haar eerste keuse omdat die graadkursus uit ‘n gesonde balans van teorie en praktiese ondervinding bestaan. “Sjoe, ek kan nie vir jou sê hoe bly ek is dat ek Elsenburg gekies het nie! Hulle leer jou werklik iets van alles – vanaf grondchemie, ekonomie, weiding- en kudde bestuur, asook in-detail dieregesondheid.”
Haar groot liefde is vee. “Die eenvoudige rede: my siel voel nie heel sonder diere nie. Deur praktiese ondervinding het ek geleer dat ek nooit genoeg kan kry van beeste – en veral Nguni’s nie.
“My hele wese word met vrede gevul as ek net na hulle kyk. Hulle is so pragtig in harmonie met die natuur en het terselfdertyd ‘n lieflike temperament. Baie mense het die wanopvatting dat Nguni’s wild is – enige bees gaan wild wees as hy sleg hanteer word!”
“Gefokus op Nguni’s, is die grootste uitdaging die negatiewe konnotasie aan die ras rakende hul groeivermoë. Ja, Nguni’s is ‘n vroeg-volwasse ras wat ‘n kleiner karkas gaan lewer, maar per hektaar lewer hulle meer vleis en is hulle meer effektief op die veld as ‘n grootraam, laat-volwasse ras.
“Ek glo dat elke beesras ‘n omgewing en/of boerdery struktuur het waarin dit die winsgewendste opsie is, so ek sê nie Nguni’s is die beste vir elke stelsel nie. My hoop is dat beestelers sal ophou stry oor watter ras die beste is en liewer verenig sal word deur hul liefde vir beeste as ‘n geheel en die unieke bydrae van elke ras sal waardeer.”
Sy wil graag in 2025 saam met die Nguni Beestelersgenootskap ras-inspeksies doen aangesien sy onlangs ‘n junior Nguni rasinspekteur geword het.
“Oor die mediumtermyn wil ek genoeg inspeksies doen sodat ek ‘n senior Nguni rasinspekteur kan word; ek wil ook ‘n Ngunistoet vind waar ek my liefde vir die ras kan toepas en veral fokus op kuddeverbetering,” vertel sy.
“My groot langtermyndroom, waarvoor ek al klaar nie kan wag nie, is om my eie plaas te hê waar ek my eie Nguni-stoetkudde van die grond af kan opbou en waar die fokus is op kwaliteit liewer as kwantiteit is.”
Conrad: Nog kennis, nuwe vaardighede
Conrad Viljoen is ‘n gebore Bloemfonteiner waar hy op Laerskool Willem Postma was aan die Hoërskool Sentraal matrikuleer het.
“Na my drie jaar se studies in Stellenbosch is ek nou terug in Bloemfontein en beplan om vanaf Januarie voltyds by ons Ricon Boerdery op ons plaas Nuwejaarsfontein buite Dewetsdorp te gaan boer,” vertel hy.
“Ek is geseënd om nog albei my ouers te hê. My ma Melinda is ‘n kunstenaar en tuisteskepper. My pa Hendri is die finansiële direkteur by SA Truck Bodies en boer deeltyds.” Hy het ‘n ouer boer Ricus en suster Althea.
“Ek is bevoorreg om ouers te hê wat my die mooi in die lewe geleer het. My pa het my geleer van hardwerkendheid en by my ma het ek my liefde vir diere gekry,” vertel hy.
“Een van my grootste liefdes is perde en ek het na skool vir ‘n jaar in KwaZulu-Natal met perde gaan werk voor ek Elsenburg toe is om landbou te studeer.”
Hy het begin met ‘n Diploma in Diereproduksie, maar later besluit om oor te skakel na B Agric. “Ek is van kleins af lief vir diere en die natuur en het besluit ek wil landbou studeer sodat kan kom boer.”
Hy meen veranderende weerpatrone en die feit dat boere prysnemers is en relatief min invloed het op die pryse wat hulle vir hulle produk ontvang, is van die grootse uitdagings in landbou. “Boere moet meer volhoubare landboupraktyke toepas, hulle produksie diversifiseer en waarde by hulle produk te voeg.”
Sy droom is om eendag sy eie Bonsmara-stoetboerdery te hê. “Maar vir nou is my doelwit om eers nog kennis op te bou en nuwe vaardighede te leer.”
NQF-vlak4
Ander studente wat aan die einde van hulle kursus gekom het, sluit in Danelle Groenewald van Philadephia wat die toekenning gekry vir die beste student in Diereproduksie NQF-vlak 4; Valentino Januarie, die beste student in Plantproduksie: Wynboukunde NQF-vlak 4; en Petrovene van Wyk, die beste student in Plantproduksie: Pomologie, NQF-vlak 4. (NQF: Nasionale Kwalifikasieraamwerk)
Die Dux-studente was Jana en Danelle, asook Engela Uithaler van Ladismith, wat ‘n diploma in Landbou ontvang het.
Buiten Jana en Conrad wat die NKWV-toekenning vir Diereproduksie, onderskeidelik vir groot- en kleinvee ontvang het, het die NKWV se toekenning vir beste wolprodusie gegaan aan Keanu Cilliers.