Categories: NewsPublished On: 20th June 2011

Landbouskole-ding-mee-om-slaglamtrofee

By 2 min read
341 words

Vier landbouskole sê mekaar vanjaar die stryd aan oor watter skool die kampioengroep slaglammers by Die Lenteskou, wat vanaf 26 Augustus tot 4 September 2011 by die Tshwane Events Centre in Pretoria aangebied word, gaan vertoon.

Leerlinge van “Bekker”’ by Magaliesburg en “Wagpos” by Brits het verlede jaar vir die eerste keer teen mekaar meegeding in die slaglamkompetisie by die jaarlikse skou in Pretoria, en vanjaar sluit leerlinge van “Morgenzon” by Bethal en “Kuschke” by Pietersburg by hulle aan om te bepaal wie die beste slaglammers kan voorberei.

Johan Oberholzer, voorsitter van Die Lenteskou se slaglamkompetisie, sê die leerlinge is ten volle verantwoordelik vir die diere – van skoon geriewe met voldoende ruimte, water en veiligheid, die weeklikse weegprogram, inentings en genoeg voer te alle tye, ook oor naweke.

“Hierdie kompetisie, wat ‘n venootskap tussen die skou en die skool is, is baie belangrik op opvoedkundige vlak, veral in die konteks van ‘n oorwegende stadskultuur. By van hierdie skole is die slaglam-kompetisie deel van die leerlinge se Graad 11-projekte – wat baie positief is vir die groei van die kompetisie.”

Volgens mnr Oberholzer bied hierdie kompetisie ook aan die leerders die geleentheid om teen gevestigde boere in die slaglamkompetisie deel te neem.

“Verlede jaar het een van die skole derde op die hoef in die nasionale slaglamkompetisie geëindig, en ons is seker vanjaar se skole sal net so goed vaar,” sê hy.

Die skole skryf groepe van vier voorbereide lammers in, en vir die leerlinge gaan dit nie net oor die enkel- en/of groepkampioene op die hoef en aan die haak nie. Voermol borg die skool met die hoogste gemiddelde punt oor die hele kompetisie met R2 000 en hulle ontvang ‘n trofee van Taltec.

Beoordeling op die hoef vind op Vrydag, 26 Augustus om 08:00 voor die Skaapkompleks plaas en besoekers – veral hoërskoolleerlinge – is baie welkom.

Vir meer inligting oor Die Lenteskou, insluitend die landbouprogram, besoek www.thespringshow.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0