Landbou-in-Suid-Afrika:-Bate-of-las?
“Elke keer as iemand ’n bord lekker kos eet en dit waardeer, gee hy stilswyend erkenning aan die land se boere,” sê mnr Chris van Zyl, adjunkhoofbestuurder: Dienste, TLU SA. “Dit is die grootste dankie wat ons kan kry, maar ons sal ook graag wil hê dat elkeen wat daardie bord kos so geniet, ’n slag vir die huidige regering vra waarom hulle nie die boer se vriend is nie.”
Elke stukkie beleid wat die regering instel met betrekking tot die landbou dui daarop dat hulle nie kommersiële boere in die land wil hê nie.
Mnr Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, beaam dit: “Selfs ’n buurland soos Namibië doen moeite om sy landboubedryf en boere te beskerm. Geen invoere word toegelaat as plaaslike produksie in die behoefte kan voorsien nie.” Hy sê Suid-Afrika se regering het ’n houding dat alles maar net ingevoer kan word.
Voedselsekerheid
Die rede waarom internasionale handelsooreenkomste en invoertariewe bestaan, is omdat die meeste lande probeer om hulle eie bedrywe en dus ook hulle ekonomie, te beskerm. Daar moet ’n fyn balans tussen invoer en uitvoer wees, want as ’n land, veral wat voedselvoorsiening betref, totaal afhanklik van die buiteland raak, raak hy in wese ’n slaaf van die uitvoerland.
Daardie goedkoop koring wat as lokmiddel gebruik is om ons eie boere se aanplantings minder te maak, is later onbekostigbaar en daar is niks wat jy daaraan kan doen as jy nie die hefboomkrag van ’n plaaslike bedryf het nie.
Voedselsekerheid gaan oor veel meer as genoeg kos vir almal in die land. Dit gaan oor die totale ekonomie, want voedselproduksie is maar net die begin van ’n ketting van waardetoevoeging wat verskeie ander bedrywe ook aan die gang hou.
Voedselsekerheid gaan dus oor werksekerheid en gevolglike stabiliteit.
Dit behoort duidelik te wees dat ’n stewige landboubedryf vir enige land ’n bate behoort te wees. Maar is dit so in Suid-Afrika?
Bate of las?
Dit is die vraag wat TLU SA op sy kongres vanjaar vra: As daar na Suid-Afrika se balansstaat gekyk word, is landbou ’n bate of ’n las?
Lastige vrae wat TLU SA in hierdie verband op elke moontlike forum aan die regering vra, gaan oor sake soos die vestiging van nie-boere op vrugbare landbougrond, die gebrek aan beskerming van natuurlike hulpbronne soos water, die aanhoudende druk op eiendomsreg en ’n markgedrewe ekonomie en die belangeloosheid van die regering met betrekking tot plaasaanvalle en algemene diefstal op die platteland.
“Daar word vanuit regeringskringe vir ons gesê dat ons moet ophou om hierdie lastige vrae te vra, want ons is glo die enigste organisasie wat nie in ooreenstemming wil kom met die regering se transformasieplanne nie,” sê Bennie van Zyl.
“Ons kan mos nie ’n beleid aanvaar as ons sien dat dit uiteindelik tot nadeel, nie net van die kommersiële boer nie, maar van die hele land en sy mense gaan wees nie.”
Dit is ook waarom dit belangrik is dat ’n organisasie soos TLU SA genoeg wringkrag by die regering moet hê.
Boere wat tans nie by georganiseerde landbou betrokke is nie, moet besef dat die regering se beleid hulle regstreeks gaan raak. Byvoorbeeld: Sonder die sekuriteit wat eiendomsreg bied, gaan baie kommersiële boere nie finansiering kan kry nie en gaan hulle uit produksie gedwing word.
Die buiteland roep
TLU SA het onlangs betrokke geraak by pogings om die voormalige kommunistiese staat, Georgië te help om weer sy landboubedryf op die been te kry. Verskeie buitelandse ondernemers het al aan TLU SA gesê dat lande hier kom aanklop omdat Suid-Afrikaanse boere die beste boere in die wêreld is. Daar is drie redes daarvoor:
Die natuurlike omgewing in Suid-Afrika is nie landbouvriendelik nie. Daar is baie marginale grond; Suid-Afrikaanse boere moet meeding met gesubsidieerde buitelandse produkte; en die regering is “die mees landbouonvriendelike regering in die wêreld”. Ondanks al hierdie faktore presteer Suid-Afrikaanse boere.
Verskeie lande, ook in Afrika, staan tou om hierdie kundigheid te bekom. Aangesien TLU SA nie wil hê dat Suid-Afrikaanse boere die land op ’n streep verlaat nie, het die organisasie ’n model ontwikkel wat nou in Georgië toegepas word, waardeur boere vir hulle kundigheid betaal word, sonder dat hulle die risiko hoef te loop om hulle plase in Suid-Afrika te verlaat of in die vreemde te begin boer.
Mnr Bennie van Zyl sê: “Ons boere ken nuwe tegnologie, verstaan boerdery en kan planne maak. Die res van die wêreld sien dit raak en is bereid om daarvoor te betaal. Die Suid-Afrikaanse regering moet vir homself afvra of hy
reken hier is nog plek vir ons. Ons wil hier boer, ons kan hier boer en as die omgewing vriendelik gemaak word, sal ons hier bly boer!”
Om by TLU SA aan te sluit, skakel 012-804-8031 of besoek www.tlu.co.za.