Ladismith-Kaas-verhoog-produsenteprys
‘n Wes-Kaapse melkverwerker, Ladismith Kaas het ‘n verhoging van 12,9 sent per liter in hul produsenteprys vanaf 1 Oktober aangekondig. Die MPO berig in sy weeklikse nuusbrief dat produsente ook ingelig is dat hulle voordeel sal trek deur middel van winsdeling aan die einde van die finansiële jaar. Die bedrag sal afhang van die maatskappy se prestasie maar die verwagting is dat dit ongeveer 5 sent per liter sal beloop. ‘n Vergadering word beplan tussen die bestuur van Ladismith Kaas en produsente om moontlike aandeelhouding in die maatskappy deur boere te bespreek.
Invoere neem toe
Die totale invoere van 31 120 ton suiwelprodukte tydens Januarie tot September 2011 is 16% meer as in die ooreenstemmende tydperk in 2010. Die invoer van melkpoeier het met 29% gestyg en dié van kaas met 10%. Die invoer van langlewe melk (UHT) is slegs 3% hoër.
Volgens die MPO ekonoom dr Koos Coetzee, is die toename in invoere ‘n bron van kommer vir die MPO veral in die lig daarvan dat verwerkers beweer dat die markte in balans is terwyl produsentepryse stagneer. Hierdie is voorts ‘n aanduiding van ‘n tekort aan rou melk op die plaaslike mark.
Skerp styging in invoerpariteit
Die invoerpariteitsprys vir suiwelprodukte is tans 64% hoër as ‘n jaar gelede. Die styging in invoerpariteit is teweeg gebring deur hoër internasionale pryse en ‘n skerp afname in die waarde van die rand. Invoerpariteit gebaseer op afgeroomde melkpoeier en botter word bereken op R4,30 per liter (September 2011) terwyl produsente ‘n gemiddelde prys van 2,98 per liter ontvang. Hierdie invoerpariteitsprys is die tweede hoogste sedert 1996. Die verskil tussen produsente- en invoerpariteitsprys is op dieselfde rekordvlak as Augustus 2007. Die verskil op daardie tydstip het aanleiding gegee tot ‘n skerp toename in produsentepryse.
Kleinhandelverkope van suiwelprodukte in die 12 maande tot Junie 2011 is aansienlik beter as in die vorige jaar. Syfers wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerders Organisasie (SAMPRO) verskaf is, dui aan dat verkope in bykans alle kategorieë van suiwelprodukte hoër as tydens die vorige 12 maande is. Groei in kleinhandelverkope is ook hoër as die syfers vir die 12 maande tot einde April 2011. Die persentasie groei in verkope vir spesifieke kategorieë word in Tabel 1 aangedui.
Jersey SA stel rasdirekteur aan
Mnr Ray Verster is aangestel as die rasdirekteur by Jersey SA. Hy het bykans 30 jaar se ondervinding in verkope, bemarking, landbou en besigheid. Mnr Verster het onlangs van Nieu-Seeland ge-emigreer nadat hy vir die afgelope 7 jaar daar betrokke was by die bestuur van melkplase met groot kuddes. Hy het twee plase in Suid-Afrika besit saam met ander sakebelange voordat hy na Nieu-Seeland vertrek het. Mnr Verster was ook betrokke by die teling en uitvoer van embrio’s en beeste.