Categories: Stock and game farmingPublished On: 14th December 2016

Laat trap jou beeste in hulle spoor 3: Koeihakkigheid

By 2 min read
418 words
beeste koeihakkigheid

koeihakkigheid

deur Johan Hoewe

Die volgende paar aflewerings in hierdie reeks handel oor een van die grootste probleme in my werk in die beesbedryf, naamlik agterbeenkonstruksie. Ons begin by koeihakkigheid. Koeihakkigheid is wanneer die agterbene se kniegewrigte na binne gedraai is sodat die tone na buite draai en oneweredige slytasie op die kloue kan veroorsaak waar al die gewig dan deur die buiteklou gedra word.

’n Verdere problem met koeihakkigheid is, wanneer die gewrigte in die agterbene nie in die korrekte posisie is nie, die gewrigte in die rug waarskynlik ook nie korrek sal wees nie. So ’n dier sal nie goed in die skouring of vir aanteeldoeleindes presteer nie. By teelbulle sal veral dekking ’n probleem wees aangesien’n  groot deel van die gewig op die gewrigte geplaas word, wat sal veroorsaak dat die heupe later ook probleme soos gewrigsontsteking (artritis) kan ontwikkel. Wanneer ’n bul ’n koei dek, maak hy sy agterbene se gewrigte reguit en wanneer hy haar penetreer en deurstamp, plaas dit enorme drukking op die kniegewrigte.

Koeihakkige bulle is geneig om hulle balans te verloor en baie keer af te val en so hulle geslagsdele te beseer. ’n Maklike toets by alle agterbeenkonstruksie is die “spoortoets”. Wanneer ’n struktureel korrekte bul loop, sal hy sy agterklou in presies dieselfde spoor plaas wat die voorklou gelos het, maar indien ‘n bul of koei koeihakkig is sal die agterspoor aan die buitekant van die voorspoor getrap word.

As gevolg van die ekstra gewig wat die klou moet dra, sal die buiteklou groter as die binneklou wees. Die hoefsnoeier sal meer van die buiteklou moet wegsny, wat dan sal help dat die kootgewrigte agter oopmaak, om sodoende die lyn van die heup na die koot en die gewrig reguit te trek. Koeihakkigheid is beslis oorerflik. Die toestand kan vererger met faktore soos oorvoeding, mineraaltekorte, sagte grond ensovoorts. Die oorgroei moenie verwar word met rolkloue nie. Van agter af moet daar ’n reguit lyn vorm oor die metatarsis, die tibia en die kniegewrig.

In die volgende uitgawe sal ons sekelhakkigheid bespreek, wat net so ’n groot probleem in die skoubedryf is, maar nie so erg soos regophakkigheid wat daarna bespreek sal word nie.

 

beeste koeihakkig

Die bees links loop reg, maar die een regs is koeihakkig.

beeste koeihakkig

Kyk hoe neig die bees se agterknieë na binne en die agterpote na buite om uiters ongemaklik te loop.

beeste koeihakkig

So trap die koei tien minute nadat haar hoewe reggesnoei is.

beeste koeihakkig

Kyk hoe reg trap die koei ’n uur nadat die kloue reggesnoei is.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0