Kverneland: Die keuse vir die boer vir wie net die beste goed genoeg is
Net die hoogste, gesondste opbrengste kan vandag se boer se toekoms verseker. Daarom moet die boer die beste saadbedding skep om die beste groei te verseker.
Dis hoekom Johan en Eben Venter van die plaas, Carmen, net buite Sannieshof, Kverneland vir grondvoorbereiding gebruik.
In die vorige uitgawe van ProAgri is berig hoe hulle hulle mielielande met Kverneland se CLC-beitelploeë tot 400 mm diep lekker losmaak om ’n gunstige groeibedding met voortreflike vogbenutting en ’n stewige opbrengsstyging te skep.
Maar nou en dan moet die grond tog omgekeer word om materiaal te bedek om vrot en siektes te voorkom, vertel die Venters.
Daarvoor gebruik hulle Kverneland se AD 85-skaarploeg met sy Packomat-vastrapper wat in een beweging ’n gerieflike, groeibevorderlike saadbed skep.
Kverneland se ploeë het sommer van die wegspring af ’n belangrike voordeel omdat hulle van ’n Skandinawiese staal gemaak is van ’n gehalte waaroor Suid-Afrika se versmouste staalbedryf nie eers kan droom nie.
Daarom is ’n Kverneland-ploeg ligter, maar veel sterker sodat veel moeiliker kraak, breek, bars, buig of slyt. Die ligter ploeg beteken ook dat jou trekker se hyser nie so hard werk as wanneer jy ’n swaarder ploeg van swakker staal gebruik nie.
As ’n ploeg reg ontwerp en reg ingestel is, het jy nie gewig nodig om hom in die grond in te dwing nie. Kverneland se ploeë is reg ontwerp en hulle sleep dus ligter en vermag meer as gewone ploeë.
Die rysterplaat se vorm laat die grond maklik daaroor gly en die doeltreffende omkeeraksie bêre stoppelreste netjies onder die grond. Verskillende soorte rysterplate is beskikbaar vir verskillende grondsoorte en bewerkings.
Kverneland-skare is die enigste in die wêreld wat in drie sones verhard word sodat hulle op die snypunt hoë slytweerstand het, maar in die vasboutsone meer buigbaar is sodat dit nie bros is en kraak of breek nie.
Een Kverneland-skaar hou so lank soos drie van enige ander soort, sê Johan Venter. En hulle ploeg nou al vyf jaar met die eerste stel rysters sonder ’n teken dat hulle aan vervanging moet begin dink.
Die Venters gebruik vierskaarploeë, maar Kverneland se AD 85 is ook beskikbaar met drie en vyf skare. Afhangende van die grondsterkte het hulle 16 tot 20 kW trekkerkrag per skaar nodig, maar nooit meer as 25 kW nie.
Jy kan die AD 85 se snitwydte hidroulies van 12 tot 20 duim verstel terwyl die ploeg in die grond is om vir vlakker of dieper en sterker of swakker grond voorsiening te maak. Die AB 85-model is presies dieselfde, maar sy snitwydte verstel met die hand.
Die ploegdiepte word met die trekkerhyser beheer en die skare se bladveerbeheerde terugskopaksie sorg dat hulle aanvalshoek altyd perfek is en dat jy nooit hoef te stop om breekpenne te vervang nie.
Kverneland-ploeë het die grootste grondvryhoogte van al die ploeë in Suid-Afrika, ongeag die ploegdiepte. Johan en Eben het al 400 mm diep met hom geploeg.
Kverneland ploeg perfek en sy Packomat-vastrapper help hom om in een beweging die perfekte saadbed te skep. Die Packomat-roller is met ’n stewige arm aan die ploeg vas en hy breek kluite, trap die grond ferm vas en maak dit sagkens gelyk – net reg vir plant.
Die Packomat loop langs die ploeg en doen sy werk in die vorige ploegvak waar die grond al effens afgedroog het sodat dit nie in die roller vaspak nie en sodat dit die grond net vastrap; nie verdig en versmoor nie.
Waar die Kverneland met sy Packomat geloop het, lyk die saadbed so gerieflik jy wens sommer jy was self ’n mieliepit.
Kverneland maak ploeg pure plesier, sê Johan, want met Kverneland weet jy jy gee jou saad die beste kans om die beste opbrengs te lewer.
Boonop kan jy jaar na jaar reken op Kverneland se ongelooflik streng gehaltebeheer en op Kverneland en sy flink span handelaars se skitterende kundigheid en diens.
As jy meer wil weet oor Kverneland se reeks ploeë vir alle toepassings, skakel Nico Storm van Kverneland by 033-345-2733 of 082-463-3124 of e-pos nico.storm@kverneland.co.za of besoek www.kvernelandgroup.com.