Categories: NewsPublished On: 28th June 2010

Kuilvoerproduksie: Klop die tyd met Vitamech se Dion kerwer

By 3 min read

Spoed en doeltreffendheid is voorvereistes vir suksesvolle kuilvoerproduksie, weet alle boere.

Op Rusfontein, waar die Malan-gesin Rusticana-melkery bedryf, het dit elke jaar maar gebars om die 140 hektaar kuilvoer wat ’n sleutelrol in hulle voerprogram speel, betyds te kerf en in te kuil.

Pa Phillip is verantwoordelik vir die boekhouding, bestellings, voorraadbeheer en voerdery, ma Esther is in beheer van die melkery en op hulle seun, Daan, se skouers rus die saaiery, voermakery en infrastruktuur.

Dit beteken dat Daan die man is wat elke jaar met twee eenrykerwers moes bontstaan om al die mielies en soja gekerf en ingekuil te kry voordat dit te droog word.

Maar nou is kuilvoertyd vir Daan pure plesier, want hy het ’n Dion F41KP-kerwer, met ’n Dion F61-120 ry-onafhanklike mieliesnyerkop aangeskaf.

Met die twee eenrykerwers het hy voorheen hard gewerk om net drie tot vier hektaar per dag te kerf, maar die Dion doen lag-lag 8 tot 10 hektaar per dag – en Daan is seker dat hulle volgende jaar nog vinniger sal kan werk.

Die Dion is gemaak om te werk. Met sy ry-onafhanklike snyerkop van 3 meter kan jy hom sommer van die dwarste af instoot om meer draai-spasie oop te sny. Sy dubbelwiele is sentraal gemonteer om sy lyf – en snyer – op presies dieselfde hoogte te hou terwyl die wiele oor walle klouter.

As hy eers aan die gang is, sny Daan vier 76 cm rye op ’n slag met hom – en daarvoor gebruik hy net een trekker teenoor die twee trekkers en drywers wat voorheen nodig was.

Om sy lemme te slyp verg ’n no 19-moersleutel en ’n skamele vyf minute per dag en boonop verhoog sy pitbreker die gehalte van die kuilvoer wat hy maak. Die pitte word op ’n vindingryke manier gebreek tussen twee aste wat met ’n spoedverskil van 60% langs mekaar draai. Hulle vrywe die pitte sagkens stukkend, wat die vibrasie, laerslytasie en kapasiteitsverlies van die gewelddadige ou pitstampers uitskakel.

Sy silindervormige snyer is ’n massiewe 69 cm wyd en 56 cm in deursnit en weeg 205 kg met sy 12 wolframkarbiedmesse. Die materiaal volg ’n reguit pad regdeur die masjien, wat sy werkverrigting verhoog en sy kragbehoefte verlaag.

Die hele aksie word maklik vanuit die trekker se kajuit beheer sodat daar nooit ’n onnodige en tydrowende gekloekery om die masjien nodig is nie.

Die Dion-kuilvoerkerwer is ook sonder ’n pitbreker beskikbaar en vir gras- en kleingraankuilvoer is daar ook ’n windry-opteller beskikbaar. Jy kan natuurlik ook ’n tweery-mielieplukker aan hom monteer.

Daan hou veral van die Dion se hoë kapasiteit en die feit dat dit hom in staat stel om sy toerusting beter te benut. Vitamech se diens is ook puik en die enkele kleinighede wat hom gehinder het, het hulle flink reggestel.

Die kerwer het al die nodige ligte sodat jy hom in veiligheid tussen plase kan rondsleep. Hy het ook ’n metaalopspoorder wat jou masjien en vee teen ’n moontlike oordosis yster beskerm, en breekbout-beskerming vir die voerrollers en snyerkop.

Goeie nuus vir boere is dat die oorlaaigeut se voering vervang kan word, wat die geut se lewe aansienlik verleng.

Vir meer inligting oor Vitamech se bobaas-kuilvoerkerwers, en hulle ander werktuie vir die boer, praat met Jurie Swart by 083-375-8840 of stuur vir hom ’n e-pos by jurie@vitamech.co.zaof skakel die kantoor by 021-907-8000 of beter nog: Besoek Nampo en gesels met Vitamech se mense daar.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment