Kubota se RTV900 speel sleutelrol in besige boerdery
Lamtyd met ’n allemintige trop vrugbare Vleismerino’s is bontstaantyd op die kliprante van die Overberg – vra maar vir Jan Wessels en sy flukse vierjarige regterhandseun, JW.
Saam met JW se oupa Jurie en ooms, Johan en Jurie, bedryf hulle Waplaas boerdery, wat ook kanola, koring en korog saai, en platsny-, stroop-, vervoer- en laaigraafwerk as kontrakteurs doen.
Jan en JW se spesiale verantwoordelikheid is die skape en veral lamtyd moet ’n boer wakker en by wees. Dis ooie na verskillende kampe toe verskuif volgens wie nog moet lam, wie reeds gelam het, wie eenlinge en wie tweelinge het. Dis sorg dat elke ooi en haar eie lam of lammers bymekaar is en lammers merk en rekord hou van ooie en lammers.
Soms is dit help en dokter en skape soek en enigiets van lek en voer en doseermiddel en medisyne tot draad en pale en gereedskap aanry – dit alles oor verskeie plase in die uitgestrekte kliprante van die Overberg heen.
In die sukses van hierdie boerdery speel die Wesselse se Kubota RTV900-rowwetereinvoertuig ’n sleutelrol.
Hy is sterk en stewig, maar rats en verbasend suinig met diesel, maklik en min moeite om te bestuur en te onderhou en die perfekte werksvoertuig vir die boer, vertel Jan. Kyk net:
Die RTV900 loop lag-lag waar g’n bakkie kan droom om by te kom nie. Daarvoor sorg sy veldvriendelike veerstelsel, sy vierwielvastrap en sy grondvryhoogte van byna 211 mm.
Met sy kompakte lyf pas hy ook oral in sodat jy kan ry tot presies daar waar jou aandag of vrag nodig is.
Met sy driestrek hidrostatiese aandrywing is dit so maklik soos melktert eet om hom te bestuur. Daar is geen gekoppelaartrappery nie. As jy by ’n lammende ooi wil stop, haal jy bloot jou voet van die vet af en klim af. Niks se ge-uitratuithalery of handremtrekkery nie. Terwyl jy met jou skaap werk, bly die RTV900 botstil staan en wag soos ’n goed-afgerigte kommandoperd.
Die afklim en opklim verg veel minder energie as die uit- en inklim van ’n bakkie. Dit tel veral as jy op een dag by honderde ooie en lammers moet afklim!
Hy laai ’n volle 500 kg en dra dit gemaklik oral waar jy ook al wil ry. En as dit nie genoeg is vir jou nie, kan jy nog ’n volgelaaide sleepwa ook agternasleep.
Die RTV900 is, soos Kubota se voortreflike trekkers, spesiaal vir die boer ontwerp en gebou. Dis ’n werktuig; nie ’n speelding nie. Hy is gebou om te werk en te hou en hy het alles wat die boer vir sy taak nodig het – tot ’n aanstekersok vir ’n lig, want ’n boer se pligte strek dikwels tot diep in die nag.
Ons boere is kosbaar en daarom het die RTV900 sitplekgordels, grypstawe, ’n stewige rolstaaf en ’n sifskerm wat sorg dat jou vrag jou nie dalk agter die kop timmer as jy skielik stop nie.
Kyk ’n mens na die RTV900 se ontoegeeflike gehalte, ongeëwenaarde Japanse ingenieursvernuf en Kubota se boergerigte diens, dan is dit glashelder hoekom Kubota die losvoor wêreldleier in sy trekkerklas is, sê Jan.
“Die RTV900 bied die beste waarde vir geld as jy hom met enigiets anders vergelyk,” glo hy, en JW stem saam.
Die RTV900 is deur oom Thomas Weir van Keur Landbou-implemente verkoop. Vir enige Kubota-navrae in die Wes-Kaap, kontak Leonard Engelke (083-461-8725/6) of Michael van Wyk (082-433-7245). Boer jy elders in die land, kan jy Kubota by 011-284-2000 skakel om te hoor waar jou naaste agent is.
Loer ook gerus na www.kubotasa.co.za.