Kragdag-propvol-nuwe-idees
Die Kragdag wat die afgelope Saterdag by Diamantvallei oos van Pretoria gehou is, was ’n reuse sukses. Besoekers het soontoe gestroom om te kyk na al die interessante verwikkelinge rondom kragbesparing en alternatiewe kragidees. Daar is ernstig gesels oor die voordele en nadele van hoëdruk en laedruk songeysers, die gebruik van tydskakelaars, LUD’s (liguitstraal diodes) in plaas van gewone gloeilampe, saamgepersde steenkool in plaas van paraffien, induksiestowe wat met magnete werk en selfs die moontlikhede om van sonkrag gebruik te maak om ’n stoommotortjie aan te dryf. Daar is ook praatjies aangebied oor kragbesparing, groen argitektuur, jou ekologiese voetspoor en selfs kernkrag in Suid-Afrika.
Tussen al die ernstige sake deur is daar natuurlik ook lekker gekuier en geëet.
Die organiseerders sê die doel van die dag is om gewone mense te bemagtig om los te kom van die monopolie van groot kragvoorsieners: “Oral in die wêreld word oor hierdie moontlikhede besin en dit kan die begin wees van ‘n geskiedkundige omwenteling in kragopwekking en kraggebruik gelykstaande aan die era wat deur steenkool- en olieverbruik ingelui is.”