Categories: NewsPublished On: 8th December 2011

Kos-vir-Mosambiek-kan-SA-se-boere-help

By 1 min read
282 words

Suid-Afrikaanse melkboere moenie moed verloor en uit die bedryf tree nie, daar is ‘n mark in Mosambiek en moontlik ander hulp in die vorm van subsidies. Dit is die boodskap van MozFood & Energy, ‘n instansie wat deur Mosambiek aangestel is om ‘n strategie vir voedselsekerheid vir die land te ontwikkel.

Mnr Paul Roux, besturende direkteur van MozFood & Energy het op ‘n nuuskonferensie in Pretoria vertel dat Suid-Afrika elke dag drie melkboere verloor, omdat hulle melk teen ‘n verlies moet produseer.

Van die 35 000 melkboere wat in 20 jaar gelede ‘n bestaan gemaak het, is daar maar 2 600 oor.  Mnr Roux sê dat dit uiters kortsigtig van melkkopers is om die boere se pryse laer as die produksiekoste te hou. Hy sê: “Dit het tot gevolg dat boere hulle kuddes moet slag om wins uit die vleis te verdien.”

Volgens mnr Roux gaan dit rampspoedige langtermyngevolge vir die hele suidelike Afrika hê. Hy sê aangesien Mosambiek al sy melk van Suid-Afrika af invoer, is dit in die buurland se belang om die bedryf te ondersteun.

MozFood moedig Suid-Afrikaanse melkboere aan om op hulle webwerf te registreer sodat daar ‘n databasis gevestig kan word. Die databasis sal dan volgens die instansie gebruik word om voersubsidies te bepaal.  

MozFood het ook ‘n uitnodiging aan kundiges in verskeie ander bedrywe gerig om op die webwerf te registreer vir moontlike indiensneming.

Daar word ook gekyk na studiegroepe vir die kommersiële benutting van Moringa Olifeira (die “wonderboom”) en van katvis, Clarius Gariepinus – meer bekend as baber in Suid-Afrika.

Die webwerf waarop mense kan registreer is www.mozfoodenergy.com.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0