Categories: NewsPublished On: 14th July 2010

Konsortium Merino boer vooruit

By 3 min read

Die ideale dubbeldoel-Merino bly in Konsortium se visier. Onder leiding van Phil van der Merwe, stoetraadgewer, jaag Gawie van Heerden van Dombietersfontein Merino’s, John Luscombe van Grove Merino’s, Vetties Esterhuizen van Victoria Merino’s, en Christo Erasmus van Brandewynskuil hulle teeldoelwitte met ywer en geesdrif na.

Hulle is besig met die “fine tuning” van die Konsortium-Merino – ’n groot karkas met medium- tot fynwol van hoë gehalte, wat vrugbaar is en oral aanpas.

Dat hulle op die regte pad is, bevestig hulle boerderysyfers, tevrede kopers en ’n landwye aanvraag na hulle gladdelyf-Merino’s.

Moeder natuur word as vernaamste keurder ingespan. Die resultaat is ’n groter, gladder Merino met ’n oop gesig en ligter onderlyne, wat op natuurlike veld presteer.

Wat díe tipe inboet op woldigtheid, word voor vergoed in wollengte. Reproduksie en moedereienskappe is beter en die skaap spog met goeie konstitusie.

Konsortium-Merino verkoop jaarliks die meeste ramme op amptelike veilings in ons land. Hulle spog met meer as 10% van Suid-Afrika se silwermeriete ramme en het talle goue-meriete ramme op hulle kerfstok.

Die sowat 200 ramme op die komende veiling is weer ’n groot aanbod vergeleke met Suid-Afrika se gemiddeld van 47 ramme per veiling, wat in 2006 op 60 Merinoveilings verkoop is.

Altesaam 314 ramme van Konsortium-Merino se sowat 1 500 ramlammers, wat in die herfs van 2006 gebore is, is vir die September-veiling ingeskryf. Net die bestes, wat vir 10 maande op natuurlike veldtoestande presteer, word vir die laaste agt weke voor die veiling afgerond.

Oor die afgelope jare kon niemand nog by Konsortium-Merino se ramverkope kersvashou nie:
In Februarie 2007 is 199 ramme teen ’n gemiddelde prys van R5 613 verkoop om die hoogste omset nóg op ’n Merinoveiling in Suid-Afrika te behaal.

In Februarie 2005 is 161 ramme teen gemiddeld R3 106 per ram verkoop.

Sedert hulle eerste veiling in Februarie 2001 het die span al 1 622 ramme op 12 produksieveilings verkoop. Dit is ’n gemiddeld van 135 ramme per veiling. Solank hulle nie die gehalte van hulle ramproduk inboet nie, sal Konsortium poog om al hoe meer ramme op veilings aan te bied. Die groter skuif is op aandrang van hul kuddeboere wat meer ramme teen bekos­tigbare pryse soek.

Groot opgewondenheid heers oor die Konsortium-ramme wat eersdaags in Australië beskikbaar sal wees. As uitvloeisel van ’n samewerkingsooreenkoms met die Multi-Purpose Merinogroep, word die eerste Konsortium-ramme op 3 en 11 Oktober 2007 onderskeidelik op Glendemar MPM, Marnoo, en Moojepin MPM, Katanning, verkoop.

David Thompson van Moojepin meen Konsortium-genetika gaan skaapteling in Australië totaal hervorm: “Here is a type of Merino with a body shape unlike any Merino I have ever seen. I believe it is the ultimate Merino – particularly regarding traits such as bone structure, depth of body, good feet and strong, open heads. All this, plus long, soft, low micron wool of very high quality on a wrinkle free skin.”

Vir navrae bel Gawie by 082-321-3233, of vir John by 053-693-0900.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0