Categories: NewsPublished On: 20th January 2012

Kommer-oor-rooivleis

By 1 min read
278 words

Ondanks talle terugslae soos slenkdalkoors en bek-en-klou-seer was 2011 ‘n goeie jaar vir Suid-Afrika se vleisprodusente. Die Rooivleisprodusente-organisasie sê in sy nuusbrief dat kenners egter bekommerd is oor die land se status by die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE).

Daar is groot kommer oor die departement van Landbou, Bosbou en Visserye se onvermoë om Suid-Afrika se status by die OIE te herstel nadat die uitbreking van bek-en-klou-seer in die noorde van KwaZulu-Natal afgeweer is.

Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) beloop die koste van die verlies van die status, konserwatief gesproke, R4 miljard per jaar. Hierdie geld kon gebruik word om toekomstige krisisse te voorkom. Suid-Afrika se gebrekkige status by die OIE het ’n uitwerking op voedselsekerheid sowel as ekonomiese groei.

Dié situasie word vererger deurdat die regering nie ’n onafhanklike inspektoraat wil aanstel om die wet af te dwing nie en daardeur word die hele bedryf benadeel.

Die regering hou self nie by die voorskrifte van die wette op dieregesondheid nie deur sy versuim om kwarantyn-stasies op te rig, die invoer van diere en diereprodukte te monitor, die nodige heinings op te rig en vergoeding aan produsente te betaal sou hul diere deur die siektes geraak word.

 

Ten spyte hiervan het rooivleispryse in 2011 in die meeste sektore gestyg. In Oktober was die gemiddelde prys wat produsente vir ’n kilogram ontvang het tussen  25,2%  en 38,3%  meer is as in Oktober 2010.

Wat die vooruitsigte vir 2012 betref, sê die RPO die verwagting is dat vleispryse op die huidige vlakke stabiel sal bly. Daar sal na verwagting ’n groter aanbod van vleis wees terwyl die vraag op dieselfde vlak sal bly.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0