Kommer-oor-mynaansoek-naby-Nylsvlei
‘n Aksiegroep is deur inwoners en ander belanghebbendes in die omgewing van Potgietersrus gestig, om seker te maak dat ‘n beoogde myn nie die omgewing skaad nie. Die aksiegroep sê in ‘n verklaring Sylvania Platinum Limited en sy filiaal Pan Palladium SA is in die proses om aansoek te doen vir ‘n mynreg op die plase Volspruit en Zoetveld in die Potgietersrus-distrik. Die mynterrein is ongeveer 20 kilometer suid van die dorp. Pan Palladium het openbaar dat twee oopgroewe gevestig sal word waar platinum groepmetale gemyn sal word. Bykomstig tot die oopgroef mynbedrywighede, sal ‘n smeltery en verwerkingsaanleg gevestig word.
Hoewel ‘n mynreg-aansoek nog nie ingehandig is by die Departement van Minerale en Energie nie, het die omgewingsimpakstudie-proses reeds begin in terme van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur (Wet 107 van 1998). ‘n Aansoek vir ‘n afval bestuurslisensie is reeds ingedien by die Nasionale Departement van Omgewingsake.
Aansoeke sal ook ingedien word vir ‘n watergebruiklisensie kragtens die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998), ‘n atmosferiese uitlatinglisensie in terme van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Lugkwaliteit (Wet 39 van 2004) en mynreg in terme van die Wet op Mineraal en Petroleumontwikkeling (Wet 28 van 2002).
Die konsep bestekopname verslag is beskikbaar gestel vir openbare deelname deur die aangewese omgewingskonsultant Escience en belanghebbendes het verlede week ‘n openbare vergadering bygewoon.
Verskeie belangegroepe onder andere boere, grondeienaars en omgewingsbewustes is uiters besorg oor die ekonomiese, sosiale en ekologiese gevolge van die voorgestelde projek. Vrese hou verband met die invloed van mynbou in die sensitiewe gebied van die Nylrivier, vleilande en vloedvlakte. Die bestekopname noem dat ‘n vloed keerwal opgerig moet word om te verhoed dat die oopgroef oorstroom. Dit noem ook dat die noordelike oopgroef uitstrek tot in die vloedlyn area. Verskeie gemeenskappe en bedrywe, onder andere landbou en toerisme, is afhanklik van water waarvan die Nylrivier die enigste bron is. Die projek kan vernietigend vir plaaslike inwoners wees indien die kwaliteit en beskikbaarheid van water negatief beinvloed word. Die bestekopname toon dat 12 000 kubieke meter water per dag teen jaar 15 van die bedryf onttrek sal word en daar is chemiese besoedelingspotensiaal van die myn se erts en slik. Weens die behoeftes van mense vir water, is die waterbronne in die gebied reeds onder uiterste druk.
Verdere besware hou verband met die ekologie van die vleilande, verlies aan biologiese diversiteit, lug en visuele impakte, afval en chemiese besoedeling. Enige belangstellendes word versoek om een van die volgende persone te kontak.
Renita Prinsloo, Potgietersrus DLU, by prdlu@mweb.co.za of 072-593-3278, Emile Honiball by ehoniball@potties.co.za of 015-491-4273, of Carina Steenkamp by vaalkom0@absamail.co.za of 083-458-4757.