Kom-eet-op-3-September-om-getel-te-word
Aasvoëlrestourante speel nie net ‘n belangrike rol om die voëls van uitwissing te red nie, maar dien ook as versamelpunt vir inligting oor hulle gedrag en beweging. By die Kempenfeldt Restaurant, 22 km buite Dundee is daar byvoorbeeld onlangs ‘n swartaasvoël opgemerk wat in Namibië gering is. Dit gee ‘n aanduiding hoe ver die voëls kan vlieg. Daar is ook voëls vanuit die Kalahari en Swaziland by dié restourant in Natal opgemerk.
Mnr Andrè Botha van die Aasvoëlwerkgroep sê hulle is besig om weg te beweeg van ringe, na merkers op die vlerke. Die merkers is soortgelyk aan plaatjies wat gebruik word om vee te merk en word in ‘n gedeelte van die voorvlerk waar daar nie bloedvate is nie, ingeplant.
Mnr Mynhardt Sadie, die eienaar van Kempenfeldt sê hulle het ‘n vanghok naby die voerplek gebou waar hulle ook die voëls vang en merk. Van die voëls is agterna weer in die Nasionale Krugerwildtuin opgemerk.
Mense moet solank die datum, 3 September 2011, op die kalender merk. Dit is nasionale aasvoël-teldag. Verlede jaar was voëltellers verbaas om die groot verskeidenheid aasvoëls wat by Kempenfeldt kom aansit vir ete, te sien. Die volgende soorte is opgemerk: Kransaasvoëls,Witrugaasvoëls, Swartaasvoëls, Monnikaasvoëls, Roofarend, Maraboe, Hadeda, Skoorsteenveër, Kalkoen ibis,Witborskraai enWithalskraai
Die aasvoëls word 3 keer per week gevoer en mnr Sadie sê dit is ‘n groot uitdaging om genoeg karkasse in die hande te kry.
Boere word versoek ‘n aantekening te maak as hulle gemerkte roofvoëls opmerk. Hulle moet probeer om die volgende inligting te kry en neer te skryf: Kleur en ID-nommer van die plaatjie, tyd, plek, aantal voëls en ‘n kort beskrywing van aktiwiteite. Foto’s sal ook baie help.
Vir meer inligting oor die aasvoëlrestourant en verblyf wat op die plaas aangebied word, besoek gerus die webwerf www.vulturehide.co.za.