Kleinhans Free Range bring gesonde plaasvleis na jou kombuis

IMG_0074
In 2015 het Alwyn en Margaux Kleinhans na mekaar gekyk en gesê: “Dit is nou of nooit.”
Alwyn het verlang na die plaaslewe waarvan hy as kind ‘n voorsmakie gekry het op sy oom se plaas. Margaux is deur en deur ‘n diereliefhebber en het gesmag na ‘n groot werf waar allerhande diere vertroetel en versorg kan word. Met die kinders wat nog jonk is en die moed om ‘n groot trek vanaf Durban na die ooste van Pretoria aan te pak, was die saak so te sê beslis.
Kleinhans Free Range is plaaslike verskaffers van plaasvars hoenders regstreeks aan die publiek. Hulle vervul verbruikers se behoefte aan betroubare verskaffers van bekostigbare vryloop-hoenderprodukte.
Varkvleis is onlangs bygevoeg en beesvleis sal deur die loop van 2024 beskikbaar gemaak word.
“Alwyn het sy huiswerk gedoen,” lig Margaux uit. “Hy het gekyk watter boerdery die vinnigste is om op die been te kry. Dit was hoenders.
“Ons het boggerol geweet,” lag sy. “Maar alles was in die Here se hande!”
Margaux vertel dat hulle baie gebid het vir bevestiging nadat hulle besluit het om die skuif te maak.“Ons het ‘n maatskappy teëgekom wat jou van kuikens en voer voorsien sodat jy die hoenders namens hulle grootmaak. Hulle neem dan die volgroeide hoenders terug en so boer jy voort.”
Alwyn het dit as ‘n goeie geleentheid beskou. “Die enigste nadeel was dat hulle vereis het dat jy naby aan Pretoria moet wees. Daarom het ons hier in die omgewing begin soek na‘n goeie plaas,” sê hy.

Alwyn Kleinhans, eienaar van Kleinhans Free Range.
‘n Nuwe begin met vele uitdagings
Daar was feitlik niks op die plaas nie. “Die mense wat voorheen die plaas besit het, het net hier gebly,” vertel Alwyn. “Die buurman se beeste het wel hier gewei, maar dit was kaal. Daar was net klippe orals.”
Verskeie ander uitdagings het hulle ook in die gesig gestaar: ‘n Tekort aan water, hoenderhokke wat nog opgerig moes word en die maatskappy waarvoor hulle hoenders sou grootmaak het ondertussen tot niet gegaan.
Ondanks al die terugslae het alles steeds in plek geval. “Ons het gesê ons gaan dan lewende hoenders verkoop en die res slag,” onthou Alwyn. “Met ons eerste ongeveer 600 hoenders het ons 30 lewend verkoop en ons moes plan maak met die res. Ons slag toe en begin vrieskaste volpak.” Aanvanklik was hulle klante meeste van hulle vriende en oudkollegas uit Durban.
Dit was swaar tye vir die Kleinhanse, want Alwyn moes later ook weer begin werk by die maatskappy waar hy voorheen betrokke was om die plaas se uitgawes te help delg.

Die varkies word genoeg ruimte gegee waar hulle kan eet, loop, slaap en selfs in die modder baljaar!
Vrylopend is nog ‘n wending in hulle verhaal
“Ons het eers nie vrylopende hoender geproduseer nie,” noem Margaux. “Dit het eers later gekom nadat mense begin vra het oor die voeding wat die hoenders ontvang en enige behandelings wat hulle ontvang.”
Vrylopend beteken dat diere nie op ‘n kommersiële manier hanteer word nie. Die diere, pluimvee of vee, word nie in klein hokkies aangehou en vetgevoer met gespesialiseerde voerrantsoene, vitamiene en groeimiddels nie. Hulle kan vrylik beweeg tussen ‘n veld of kampie en ‘n veilige skuiling teen die warm son en reën. Verder kan jy ook verseker wees dat die voer wat aan die diere verskaf word alles natuurlike bestanddele bevat. Indien diere siek word, word hulle ook eenkant geplaas en die geleentheid gegun dat hulle immuunstelsel self hulle genees.
By Kleinhans Free Range verpil Alwyn self die voer wat aan die diere verskaf word. Hierin word voer soos mielies gemeng, maar ook natuurlike aanvullings vir natuurlike immuunversterking.

Lamsvleis is ook op die vryloop-spyskaart van Kleinhans Free Range.
Weet wat jy eet
Die onlangse toename in aanvraag wat die Kleinhanse begin ervaar is danksy hulle klante se behoefte om te weet wat hulle op hulle borde plaas–jy is immers wat jy eet.
“Mense begin meer oplet na wat hulle eet en dié wat reeds die skuif gemaak het sien dit in hulle gesondheid,” vertel Margaux. Sy verduidelik ook dat die prys van vrylopende hoenders nie net te doen het met die langer tyd wat dit hulle neem om slaggewig te bereik nie.
“Jy koop gesondheid. Met vrylopende vleis, hetsy hoender, lam of vark kan jy verseker wees dat daar nie stowwe is wat in die vleisweefsel vasgevang is wat jou siek sal maak wanneer jy dit eet nie.”

Die hoenders het vrye keuse of hulle buite wil loop, maar hier verkies hulle skuiling uit die warm son.
Vra jou slagter die volgende vrae as jy vrylopende vleis belowe is:
- Is die vleis vanaf plaaslike produsente verkry?
- Wat is die dier gevoer? Was dit organiese voer of is daar onnatuurlike toevoegings gewees?
- Was die dier vrylopend of nie (soos ‘n hoenderhuis of voerkraal)?
- Watter praktyke word op die plaas gehandhaaf om te verseker die vleis het ‘vrylopende status’?

As jy vryloop-hoendervleis koop, koop jy ook ‘n gesonder leefstyl. Dit is goed vir jou en die natuur.
Indien jy graag meer wil weet oor Kleinhans Free Range, besoek hulle webtuiste op www.kleinhansfreerange.co.za, of plaas vandag nog jou bestelling by info@kleinhansfreerange.co.za.