Categories: NewsPublished On: 12th September 2011

Kleiner boere benodig raad en sakehulp

By 2 min read
372 words

Dit is noodsaaklik dat kommersiële- en klein-kommersiële-boere, asook die plaaswerkers soos een groot familie moet saamwerk om voedsel aan die land te verskaf, sê mnr Cobus Dowry, wat onlangs as die nuwe Voorsitter van die kleinboereorganisasie, USAAA, (United South African Agricultural Association) aangewys is.

Mnr Dowry was vroeër die Minister van Landbou in die Wes-Kaap en is ‘n olyfboer in die Tulbagh-distrik. Hy sê dis ‘n reuse uitdaging om ‘n organisasie van bykans 4 000 lede te lei maar dat hy geweldig baie na dié taak uitsien.
“USAAA kon daarin slaag om in ‘n relatiewe kort tydperk  as ‘n formidabele entiteit in die opkomende en nuwe-kommersiële dissipline te vestig. USAAA moet ‘n instrument word om kleinboere regoor die land te dien en na behore na hul belange om te sien”, sê mnr Dowry.

Vir hom het die landbou drie komponente naamlik die kommersiële boer, die nuwe kommersiële boer (opkomend) en die plaaswerker. “Sonder hierdie drie komponente is voedselsekerheid nie moontlik nie en moet die onderlinge verhoudinge vertroetel word. Dit is noodsaaklik dat kommersiële- en klein-kommersiële-boere, asook die plaaswerkers soos een groot familie moet saamwerk om voedsel aan die land te verskaf.”

Hy sê in die proses om by hierdie doelwitte uit te kom, moet nie net die regering na die tafel toe kom nie, maar ook die sakesektor.

Volgens mnr Dowry is dit lankal nie meer raadsaam dat die klein-kommersiële boer as weeskind op eie houtjie moet worstel om in ‘n woestyn van probleme en tekortkominge in die land moet oorleef nie.

Hy sê: “Ons is vasbeslote om volhoubare maniere te vind om die vakuum wat deur die uittog van kommersiële boere in Suid Afrika die afgelope 10-15 jaar gelaat is, te vul. Dit is baie hartseer dat ons land hierdie kundige landboupraktisyns verloor het maar ek sal ook alles in my vermoë doen om baie van hierdie gesoute produsente wat oor uitnemende institusionele geheue beskik, terug in die tuig te kry om daadwerklike leiding deur middel van onder meer mentorskappe te gee.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0