Categories: NuusPublished On: 25th April 2025

Klein-Karoo donkies help drome waar word

By 4 min read
800 words

donkie 1

Dr Andre Hattingh van Pediatric Care Africa op die donkiekar waarmee hy ‘n rit van 500 km deur die Klein-Karoo onderneem om geld in te samel om spesiaal ontwerpte stootkarre vir kinders met serebrale gestremdheid in te samel. Die twee donkies is onderskeidelik Valklady en Dapper. (Bron: Verskaf)

Net soos ‘n nederige donkie lank terug die Verlosser na Jerusalem gedra het, is ‘n spannetjie donkies besig om vir twee kinders met ernstige gestremdhede die droom van verlossing van ‘n lewe in afsondering te bring.

Dr Andre Hattingh, stigter en voorsitter van Pediatric Care Africa, onderneem oor 17 dae vanaf 8 tot 24 April ‘n donkiekarrit van 500 km deur die Klein-Karoo om geld in te samel om vir twee kinders met serebrale gestremdheid ‘n spesiaal ontwerpte stootkar, alom as ‘n buggy bekend, te laat maak.

Serebrale gestremdheid is ‘n ongeneeslike neurologiese afwyking wat die beweging, koördinering en liggaamshouding van ‘n lyer beïnvloed.

“Hoewel ons nie serebrale gestremdheid kan gesond maak nie, kan ons ‘n groot verskil in die lewenskwaliteit van ‘n jong lyer maak. Die kinders word dikwels in ‘n arm omgewing groot. Hulle bring hulle ganse lewe in afsondering op die vloer deur, want namate hulle ouer en swaarder word, kan die ouers hulle nie meer ronddra nie.

Met behulp van ‘n buggy kan hulle saam met die gesin by ‘n eetkamertafel sit en in die stootkar op uitstappies gaan, al is dit net winkel toe.

Die donkiekarrit word geborg deur verskillende instansies wat per kilometer ‘n bydrae maak om die droom te verwesenlik. “Ons wil graag R200 000 insamel vir die twee kinders se buggies,” sê dr Hattingh. “Ons het een klaar gekoop en ‘n driejarige erg gestremde dogtertjie wat nie self kan sit nie, kry haar buggy wanneer ons op 24 April weer in De Rust aankom.”

Die buggies kos sowat R85 000 elk en moet spesiaal aangepas word vir die kind se behoeftes sodat dit voldoende ondersteuning aan die liggaam bied.

“Daar is geweldig baie belangstelling en mense ontmoet ons orals langs die pad. Die fondsinsameling gaan maar sukkel en ons is nog ver van ons teikenbedrag af.”

Die donkie is ‘n wonderlike ding

Volgens dr Hattingh word drie spanne van twee donkies elk gebruik om ‘n spesiaal vervaardigde liggewig donkiekar die 500 km te trek. ‘n Kenner het ook die tuie gemaak waarmee die donkies ingespan word.

Om te voldoen aan padverkeersvereistes word gehou op grondpaaie sonder woeste hellings tussen De Rust en Oudtshoorn en Calitzdorp. Die 500 km bestaan uit twee ritte van 250 km elk wat afgelê word om vir die twee kinders afsonderlik geld vir ‘n buggy in te samel.

Die donkies is met die hand uitgesoek en word by die eienaar Jistin Prinsloo gehuur vir die tog. Die donkies is vooraf deur veearts dr Garth Ryder ondersoek om seker te maak hulle is nog nooit verwaarloos of mishandel nie. Hoefsmid Anthony Blou het ook seker gemaak die donkies se hoewe is geskik om die langpad aan te durf. Die veearts en hoefsmid, asook ‘n gesoute donkiehanteerder maak die hele tog mee.

Nie dat die donkies hulle gaan doodwerk nie – hulle gee die pas aan en die rit gaan op ‘n stappie afgelê word. Niks se gehardloop nie!

Terwyl dr Hattingh die rit bedags onderneem word twee spanne donkies solank vooruit na die oornagplek geneem. Nog ‘n voertuig met ‘n sleepwa wat tef en water karwei, volg op die donkiekar se hakke met ‘n groot kennisgewing en flitsende ligte wat aandui hier’s donkies op pad!

Elke donkiespan werk net al om die derde dag met twee rusdae tussenin, en sou iets verkeerd loop, is daar ‘n vierde span donkies wat regstaan. As die Karoohitte te erg raak sal die donkies sommer langs die roete uitgespan en met ‘n vars span vervang word.

Dr Hattingh se doel is om die donkiekarrit jaarliks te onderneem en elke jaar nog twee kinders se lot te verlig.

En in die proses word die lot van die donkies ook onder die publiek se aandag gebring. “Donkies het superkoel en het wonderlike geaardhede,” sê dr Hattingh.

“Donkies is ‘n simbool van die Klein-Karoo en ons wil hê mense moet hulle meer waardeer. Donkies moet met respek behandel word.” Dit was immers op die rug van ‘n donkie wat die Verlosser Jerusalem binnegery het…

Nahkesha Stuurman (3)van Blomnek in De Rust het die eerste buggy ontvang na dr Andre Hattingh 500 km met ‘n donkiekar in die landelike omgewing van die Klein Karoo afgele het. (Bron: Verskaf)

Kontakbesonderhede en donasies

Pediatric Care Africa is ‘n maatskappy (Registrasienommer 2020/865045/08) sonder winsbejag. Die nie-winsgewende organisasie (Registrasienommer: 214-711 NPO) is nie onderhewig aan belasting nie (PBO-nommer: 930064552 – 18A en donasies hou belastingvoordele in. Die borgvorm is beskikbaar op die webtuiste by  www.pediatriccareafrica.org en ondersteuners kan R1, R2, R5 of R10 per kilometer borg. Dit is betaalbaar wanneer die donkiekarrit op 24 April by die De Rust Hotel in die hoofstraat klaarmaak.

‘n Eenmalige donasie kan per elektroniese oorbetaling gedoen word.

Bankbesonderhede

Pediatric Care Africa

Standard Bank South Africa

Rekeningnommer: 131953044

Takkode: 053052

Noem dat die donasie bedoel is vir “Donkies”

Besoek die webtuiste by www.pediatriccareafrica.org vir meer inligting

 

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1