Categories: NewsPublished On: 24th December 2011

Kersgeskenk op bêk ôrder

By 3 min read
534 words

Die driejarige Kallie se beentjies wat onder sy kort broekie uitsteek, woer behoorlik soos hy by ma probeer byhou terwyl sy die laaste inkopies voor Kersfees doen.
Gewoonlik kan Kallie nie met beloftes van roomys en tjips omgepraat word om saam met ma dorp toe te gaan as ma inkopies doen nie. Die baie rapsies op die handjies oor alles waaraan hy wil vat, die lang wag terwyl ma skoene aanpas, die lang staan in die toue by betaalpunte, en ‘n brandboud of wat as hy van verveeldheid wegraak…alles dra by tot die kopskuheid.

“Ons moes hom eintlik ‘Groot Speld’ gedoop het,” beduie ma gereeld as Kallie so tussen neus en ore soek raak.

Maar dis amper Kersfees. Trouens, vanaand bring Kersvader die geskenke, en Kallie is saam met die hoop om iewers vir Kersvader raak te loop. So met die deurry deur die dorp het hy die afgelope paar dae elke keer vir Kersvader gesien. Soms werk sy koppie kliphard hoe Kersvader dit regkry om so gou van een plek na ‘n nader te beweeg.

“Toorwerk,” het Kallie se pa geantwoord terwyl die twee koöperasie toe gery het. Pa is ‘n man vir min woorde, en Kallie gaan graag saam koöperasie toe. Daar is altyd iets waaraan hy hom verwonder, en hy mag maar op die groot, splinternuwe trekkers klim sonder dat iets iewers aan sy lyfie aan die brand gaan. Trouens, die bestuurder haal gereeld vir hom ‘n paar droppe uit ‘n glashouer, en Kallie kom dan met ‘n swartgesmeerde gevreetjie by die huis.

Die koöperasie het net een nadeel, Kersvader is nooit in die omgewing nie.

“Daar’s hy!” gil Kallie toe hy Kersvader sien, en hy begin dadelik aan ma se hand te trek, sy ogies vasgenael dat die ou karnallie nie dalk toorkrag inspan voor hy, Kallie, nie kans gekry het om by hom te kom en die uiters belangrike boodskap af te gee nie. Ma laat haar saamsleep. Sy meen ook sy is veilig, want Kallie het geen geheim gemaak van wat hy alles verlang nie – alles beskeie soos ‘n Spiderman en ‘n klimtol, en dis alles reeds toegedraai vir buurman Jan de Bruin om vanaand as Kersvader te bring.

Maar Kallie verras sy ma, en Kersvader weet ook nie mooi hoe om die verleentheid weg te steek nie: “Kersvader, ek het gevergeet, ek wil baie asseblief, asseblief ‘n bababoetie hê!” Van die omstanders giggel, en een ongepoetste winkelassistent lag kliphard. Kersvader soek verleë na ‘n antwoord.
Maar dan let hy op. Kallie se ma glimlag breed, sy beduie na haar magie wat boep maak, en toe met die duim na bo. Duidelik gaan Kallie ‘n bababoetie kry, maar hy sal eers bietjie moet wag. Hy beduie so aan Kallie.

“O,” gaan die lig vir Kallie aan wat mos gereeld saam met pa by die koöperasie kom, “hy is op bêk ôrder.”

Aan al ProAgri se lesers en webvriende wens ons ‘n vreugdevolle en veilige Christusfees toe.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0