Keer inwendige parasiete in hulle spoor
Goeie reën lei tot ‘n toename in inwendige parasiete en die veeartsenykundige liggaam RuVASA (Ruminant Veterinary Association of South Africa) het boere gewaarsku om op die uitkyk te wees vir ‘n hele paar siektes wat redelik wyd gerapporteer is.
Dr Faffa Malan, wat die verslae met behulp van die plattelandse veeartse saamstel doen ‘n beroep om boere om met die geringste onsekerheid eerder hulle veearts te vra om ’n siekte behoorlik te diagnoseer om dit reg te kan hanteer.
Rondewurms
Met die goeie reën wat in groot dele van die land geval het, is daar verslae van die teenwoordigheid van interne rondewurm uit verskeie oorde ontvang. Boere word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die parasiet.
Haarwurm
Talle berigte is van wildsterftes wat deur haarwurm veroorsaak is, ontvang. Haarwurmweerstand teen doseermiddels kom ook wydverspreid voor en die beste raad is om jou veearts te raadpleeg met die kies van die wurmmiddelsgroepe wat die parasiete op jou plaas kan beheer. Dit is belangrik dat ’n boer bewus is van die kodes op die verpakking van die ontwurmmiddels om sodoende die korrekte aktiewe bestanddeel te kies.
Daar is ook uit die Wes-Kaap berig dat bruinmaagwurm amok maak. Die beginsel van van refugia moet altyd in gedagte gehou word wanneer ontwurmmiddels gebruik word. Dit beteken dat ’n sekere aantal parasiete in ‘n trop lewend gehou moet word om te verhoed dat die enigste lewende en dus bestande parasiete nie met mekaar teel om weerstandige nageslag te bou nie. ’n Veearts kan ’n boer met die fyner inwerkingstelling daarvan help.
Lintwurms
Lintwurmbesmettingsverslae is vanuit die hele noordstreek, die Vrystaat, asook die Oos- en Wes-Kaap ontvang.
Parafilaria
Hierdie parasiet veroorsaak ‘n toestand wat vals kneusing genoem word en dit lei tot afgradering van die karkas. Diere moet 70 dae voor slagting behandel word vir die letsels om te genees. Uitbrekingsverslae is van Limpopo, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal ontvang.
Slakke
Bestudeer verslae van slagpale om te sien of diere wat geslag is besmet is met lewerslak en bespreek die beheermaatreëls met jou veearts. Daar is ook ‘n bloedtoets beskikbaar wat gedoen kan word om te bepaal of die dier lewerslak onder lede het. Verslae is van Oos-Transvaal (Mpumalanga), Gauteng, Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap ontvang.
Onvolwasse peervormige slakwurms veroorsaak erge diarree. Jong diere is veral vatbaar. Wees versigtig wanneer nuwe diere in ‘n gebied ingebring word.
Sistiserkose (masels)
Verslae is van Oos-Transvaal (Mpumalanga), Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap ontvang. Groot verliese kom voor wanneer karkasse by slagpale afgekeur of afgradeer word. Boere moet die oorsprong van die besmetting naspeur en voorkomende maatreëls in plek stel. Lei werkers op oor die lewensiklus van Taenia saginata, die menslike lintwurm.
Koksidiose
Talle verslae van al die provinsies is ontvang, behalwe Noordwes en die Noord-Kaap. Jong diere word veral deur koksidiose geraak en nat en modderige toestande is ‘n ideale omgewing vir jong diere om met hierdie parasiet besmet te raak.
Dit word weer eens benadruk dat enige onsekerhede met ‘n veearts bespreek moet word.