Katoenpryse daal skerp
Katoenpryse het in die huidige seisoen skerp gedaal nadat dit rekordhoogtes in 2010/11 bereik het. Dit het tot ’n afname in boere se inkomste gelei en vir die eerste keer in drie jaar het katoen se aantreklikheid teenoor mededingende somergewasse begin afneem. Die International Cotton Advisory Committee (ICAC) raam daarom dat wêreld-katoenproduksie in 2012/13 met 6% sal afneem tot 25,1 miljoen ton. Indien katoenpryse oor die volgende paar maande verder sou afneem, voorspel die ICAC dat ’n verdere afname in wêreld-katoenproduksieramings vir 2012/13 moontlik is.
Katoenproduksie sal na verwagting in 2012/13 in die meeste groot katoen-produsende lande soos Sjina, Indië, Pakistan en Brasilië afneem, met die uitsondering van die VSA en Australië waar toenames in produksie verwag word.
Nadat dit vir twee jaar geen groei getoon het nie, verwag die ICAC dat wêreld-katoenverbruik weer sal begin toeneem en word ’n styging van 3% in katoenverbruik vir 2012/13 voorsien wat na raming op 25 miljoen ton te staan sal kom. Volgens die ICAC kan die verwagte hoër katoenverbruik en laer katoenpryse aanleiding gee tot ’n verbetering in wêreld-katoenhandel wat na raming in 2012/13 met 9% tot 8,4 miljoen ton kan styg. Sjinese katoeninvoere sal na verwagting met 11% tot 3,6 miljoen ton toeneem weens die groter gaping tussen produksie en verbruik.
Omdat wêreld-katoenproduksie en –verbruik min of meer in balans is, verwag die ICAC dat katoenvoorrade nie veel sal toeneem nie.
Plaaslike vooruitskouing
Wat die plaaslike vooruitskouing betref, dui die finale skatting vir die 2010/11 produksie-jaar op ‘n totale katoenoes van 90 006 bale vesel wat ‘n styging van 1% teenoor die vorige maand se skatting toon en ‘n styging van 112% teenoor die oes van die vorige seisoen verteenwoordig. Dit is die eerste toename in plaaslike katoenproduksie in 7 jaar. Die huidige oesskatting is 14% laer as die eerste skatting vroeër die jaar hoofsaaklik weens swakker opbrengste teweeggebring deur vloede en ongunstige klimaatstoestande.
Na raming sal 85 746 bale vesel geproduseer word van RSA-geproduseerde katoenpluksel, ’n toename van 123% teenoor die vorige seisoen. Die balans van 4 260 bale vesel het betrekking op verwagte Swaziland-geproduseerde katoen wat deur die Swaziland pluismeule gepluis word. Voorlopige aanduidings vir die 2011/12 produksieseisoen is dat die Suid-Afrikaanse katoenoes min of meer dieselfde as die van die huidige seisoen sal wees.