Kasteel se genetika verseker groei vir winsgewende vleisproduksie
Jaar na jaar stroom kopers van regoor die land na Kasteel Witdorpers se produksieveiling om genetika op te raap waarmee winsgewende skaapvleisproduksie verseker word.
En ook geen wonder nie, want as een van die oudste presterende Witdorperstoeterye werk Kasteel al sedert 1974 daaraan om spogskape te ontwikkel wat immer beter presteer in ekstensiewe boerderytoestande.
Skaapboere van regoor die wêreld, ook vanuit Australië, Kanada en Brasilië val oor hulle voete om hulle genetiese koers met bloed van Kasteel Witdorpers te verbeter.
Australië se Dorper- en Witdorpertydskrif berig dat Witdorpers van Dries Wiese se Kasteel Boerdery ’n belangrike rol in die vorming van Australië se genetiese toekomsrigting speel wat vleisproduksie betref.
Hierdie stelling word ondersteun deur die feit dat heelwat van vanjaar se skouwenners in Australië skape is wat ontstaan het uit embrios wat van Kasteel af kom – onder andere hulle nasionale kampioenram.
So gesog is Kasteel se genetika in Australië dat die eienaar, Dries Wiese, ’n plaas in Australië gekoop het om die spil van Kasteel se uitvoerprogram na die res van die wêreld te vorm.
Kasteel se sukses is die resultaat van onverbiddelike seleksie vir produksie-eienskappe in ekstensiewe omstandighede.
Stoetskape word presies soos kommersiële diere aangehou sodat klante altyd seker kan wees dat dit die dier se genetika is wat hom laat presteer en nie spesiale vertroeteling nie.
Dries verstaan die kommersiële boer se behoeftes baie goed. Benewens die stoet, bedryf hy self immers ’n
kommersiële boerdery wat ’n paar duisend slaglammers per jaar bemark.
Vir kruisteelt koop hy Merino-ooie waarby hy sy Witdorper-rammetjies vanaf vier maande ouderdom gebruik. Dit beteken dat die rammetjies wanneer hulle die dag as stoet- of kudderamme verkoop word, reeds dekbehendig en bewese is met ’n nageslag op die grond.
Die Dorper en Witdorper het homself bewys as die beste ras om topgehalte slaglammers op natuurlike weiding te produseer – goedbespierde karkasse met min liggaamsvet soos die verbruiker daarvan hou.
Die ras se voeromsetdoeltreffendheid en vermoë om selfs op lae gehalte weiding puik produksie te lewer, is byna legendaries.
Ooie raak maklik beset, gooi gereeld tweelinge en maak hulle lammers goed groot sodat hulle op speenouderdom bemark kan word. Hulle uitslagpersentasie is baie goed en dit is ou nuus dat die Dorper keer op keer koning kraai in karkaskompetisies.
Die ramme is fluks en dit is glad nie snaaks dat ’n enkele Witdorperram binne 30 dae meer as 100 ooie suksesvol kan beset nie.
Boonop verg die Witdorper die minimum arbeid om die maksimum wins in die boer se sak te laat beland.
As jy sonder sukkel vir wins wil boer, sorg dat jy Kasteel Witdorpers se produksieveiling op 27 September 2007 op Loxton bywoon. Vir meer inligting, skakel Dries Wiese by 082-809-2949, e-pos drieswiese@mweb.co.zaof besoek www.kasteelwhitedorpers.com.