Kanadese-boer-steeds-op-hongerstaking
Die melkboer wat daaraan skuldig bevind is dat hy ongepasteuriseerde melk van sy plaas af in die Kanadese Ontario-provinsie verkoop het is nou reeds drie weke op ‘n hongerstaking.
Alhoewel verswak, is die 57-jarige boer, Michael Schmidt steeds vasberade om roumelk te mag verkoop.
Hy het aan ‘n verslaggewer van Thestar.com gesê hy het die afgelope 17 jaar tevergeefs probeer om ‘n dialoog met die owerhede oor hiedie saak te voer.
"Wat ek vra is nie onmoontlik nie” het hy gesê. "Ek vra nie dat die wette dadelik verander word nie… Ek vra dat die teistering van boere gestaak word, dat die mense die reg het om te kies watter kos hulle eet en dat ons met ‘n konstruktiewe gesprek oor die saak moet begin.”
Volgens Kanadese wet mag slegs boere roumelk drink wat van hulle eie koeie afkomstig is. Die wet vereis dat melk wat aan ander verkoop word eers gepasteuriseer moet word wat beteken dat dit vinnig tot ten minste 63 grade Celsius verhit moet word.
“Kanada is die enigste G8-land wat nie die verkoop of verspreiding van roumelk toelaat nie” het Schmidt wat ‘n magistergraad in die landbou het, gesê
Hy het gesê hy wil graag met die premier self oor die saak ingesprek tree.