Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 7th July 2025

Kameelperde word meer, nie meer minder nie

By 7 min read
1332 words

kameelperd 1

Vier kameelperdspesies kom in Afrika voor, elk met hulle eie velpatroon. (Bron: https://giraffeconservation.org/)

21 Junie is wêreldwyd gewy aan kameelperde en hulle lot. Die ou langnekke is so deel van die Afrika-landskap dat min mense besef dat hulle getalle die afgelope drie dekades dramaties afgeneem het. Gelukkig is die tendens besig om te draai.

Kameelperde is eintlik redelik kwesbaar is, veral in die lig van onverklaarbare kameelperdvrektes in ons buurland Namibië. Hulle het nie juis natuurlike vyande nie, maar die mens se landboubedrywighede, verstedeliking en infrastruktuur-ontwikkeling verklein en fragmenteer hulle habitat.

Dit lei daartoe dat kameelperde se toegang tot water en kos beperk word en uiteindelik tot konflik tussen mens en dier lei. Voorts word kameelperde in  sekere dele  van Afrika ook gejag vir hulle vleis, bene, vel en stert wat as kos, moetie en versiering van tradisionele drag en hooftooisel gebruik word.

Privaat reservate se rol in bewaring

Volgens Joe Cloete, hoof uitvoerende beampte by Shamwari Privaat Wildreservaat in die Oos-Kaap, is mense dikwels onbewus van kameelperde se lot en hulle bewaring word nie altyd as belangrik geag nie. Gevolglik kry kameelperde minder aandag van bewaringsinstansies ten spyte daarvan dat hulle getalle oor ‘n lang tydperk afgeneem het totdat daar van sekere spesies min individue in klein gebiede oor is.

Die rol wat kameelperde speel om biodiversiteit te verseker in terme van die groeivorm van plante, die skep van habitat vir kleiner spesies en die ekosisteme wat hulle teenwoordigheid verseker, word dikwels misgekyk.

Joe meen privaat wildreservate speel ‘n belangrike rol in die beskerming van kameelperde omdat die gebiede afgebaken is en beskerm word teen landbou, ontbossing en dorpsontwikkeling.

Die reservate restoureer ook verwaarloosde ekosisteme en verbeter biodiversiteit en weiding tot voordeel van kameelperde en ander spesies.

Reservate soos Shamwari patrolleer ook die reservaat met die hulp van opgeleide hond, moderne waarnemingstoerusting en selfs lugondersteuning om stroping en onwettige jag te voorkom.

Op die manier speel privaat reservate ‘n belangrike rol in die bestuur van gesonde teeltroppe en verseker genetiese verskeidenheid deur uitgesoekte diere by die trop te voeg.

“Omdat ons belê in die diere, hou ons ons kameelperdbevolkings fyn dop. Dit dra by tot kennis van die diere se gedrag, ekologie en genetika, help om bedreigings betyds te identifiseer en bewaringstrategieë te evalueer,” sê Joe.

Soos Shwamwari het ander reservate ook uitreikprogramme wat omliggende gemeenskappe betrek en bewustheid oor die belangrikheid van bewaring verhoog.

Statusverslag gee goeie nuus

Die GCF se jongste 2025-verslag oor die status van kameelperde wys dat getalle van al vier kameelperdspesies besig is om stadig maar seker te vermeerder of ten minste te stabiliseer.

‘n Omvattende opname oor die afgelope jaar het getoon dat die getalle aangroei weens suksesvolle bewaringsaksies,

Stephanie Fennessy, uitvoerende direkteur van GCF is verheug oor die positiewe tendens wat vir al vier spesies geld. “Deur al die belanghebbende partye bymekaar te bring, die belangrikste bedreigings te identifiseer en saam te besluit op ‘n plan van aksie, werp vrugte af. Kameelperde in Afrika kan net gered word deur die mense wat nou saam met hulle leef. Habitatverlies en -fragmentasie is die belangrikste bedreiging en al is dit nie maklik om aan te spreek nie, kan bewaringsaksies deur gemeenskappe en privaatreservate, saam met bewusmaking en hervestiging, tog die probleem hel oplos.

Sy meen kennis en begrip van die verspreiding, getalle en beweging van kameelperde en om hierdie inligting met alle belanghebbendes te deel, is die sleutel tot die GCF se sukses.

Tipes kameelperde

Die noordelike kameelperd kom in Noord-Afrika voor en met 7 037 oor, is dit die mees bedreigde groot soogdier. Volgens GCF was daar ‘n 20% toename in getalle die afgelope vyf jaar.

Die suidelike kameelperd kom oral in Suider-Afrika voor en getalle het oor ‘n tydperk van vyf jaar met 50% toegeneem tot 68 837 in die natuur.

Die netvormige (reticulated) kameelperd kom in beperkte gebiede in noordoos Kenia en dele van Ethiopië en Somalië voor. Daar is sowat 20 901 oor, maar dit lyk asof getalle toeneem. Reticulated beteken netwerk en verwys na die kolpatroon op die spesie se vel.

Masai kameelperd kom in Kenia voor waar sowat 43 926 voorkom en die getalle groei steeds. Die Zambiese Luangwa-kameelperd se getalle en verspreidingsgebied toon ook ‘n toename.

Spesies in kort

Noordelike kameelperd (Giraffa camelopardalis) waarvan daar drie subspesies is

Suidelike kameelperd (Giraffa), waarvan twee subspesies bestaan

Netvormige of reticulated kameelperd (Giraffa reticulata)

Masai kameelperd (Giraffa tippelskirchi)

Rothschild se kameelperd (Giraffa camelopardalis rothschildi)

Rhodesiese kameelperd (Giraffa camelopardalis thornicrofti)

‘n Suidelike kameelperd in Namibië. (Bron: https://giraffeconservation.org/)

Omskrywing en bewaringstatus

Giraffa camelopardalis camelopardalis, die noordelike of Nigeriese kameelperd, is krities bedreig. Volgens die IUCN is daar maar minder as 500 volwassenes oor omdat die getalle die afgelope dertig jaar met 95% afgeneem het. Die wat oor is, kom tans net in klein gebiede van Ethiopië en Suid-Soedan voor. Volgens die GCF het die getalle sedert 2020 met 19% tot 7 037 toegeneem het. Die kolle op die vel is meer rooierig as die van ander kameelperde.

Giraffa camelopardalis antiquorum, ook bekend as die Kordofan-kameelperd, is krities bedreig en daar is net sowat 1 400 volwasse diere kom verspreid in sentraal Afrika in Kameroen en Tsjad voor. Die Kordofan-kameelperd in een van die kleinste; hy lyk baie soos die Angolese kameelperd met groot kolle op sy vel.

Giraffa camelopardalis per alta kom net in Nigerië voor nadat menslike aktiwiteite in Burkina Faso en Mali daartoe gelei het dat hul habitat gekrimp het en hulle uitgesterf het sodat daar tans net 425 oor is.

Giraffa camelopardalis ‘n hibriede subspesie wat die produk is van kruising tussen ander spesies. Hulle kom gewoonlik tussen noordelike en suidelike kameelperde voor, maar omdat hulle na hulle ouers lyk, is daar ook bewyse van kruising tussen subspesies van netvormige (reticulated) en Masai-kameelperde.

Giraffa giraffa giraffa of die suidelike kameelperd kom verspreid in Suider-Afrika voor en het die afgelope vyf jaar met 50% toegeneem tot sowat 68 837 in die vrye natuur.

Giraffa giraffa angolensis of Angolese kameelperd is versprei tussen Angola waarheen dit teruggebring is, Botswana en Namibië. Na raming het die getalle die afgelope 30 jaar ook toegeneem en vandag is daar sowat 10 323 volwasse diere.

Die vel is liggeel met groot bruin kolle wat soos blare lyk. Hulle kom gewoonlik in klein groepies van vyf of alleen voor.

Giraffa reticulata, of  Somaliese kameelperd, kom verspreid in klein gebiede in Ethiopië, Kenia en Somalië op savannes voor. Hulle getalle het ook afgeneem. Die kolle op sy lyf is breër as by ander kameelperde en is rooibruin van kleur.

Giraffa camelopardalis tippelskirchi oftewel Kilimanjaro of Masai-kameelperd kom in Kenia, Tanzanië en Rwanda voor. Daar is nagenoeg 35 000 oor, maar word nietemin deur die IUCN as bedreig beskou. Volgens GCF is die kameelperdgetalle in Kenia en Rwanda besig om toe te neem en daar is nou sowat  43 926 in Kenia, terwyl Zambië s  Luangwa-kameelperd, ‘n subspesie van die Masai, se verspreidings-gebied en getalle uitbrei. Die Masai-kameelperd word tot ses meter lank en is die grootste van al die spesies. Die vel is heldergeel met onreëlmatige kolle.

Giraffa camelopardalis rothschildi of Rothschild se kameelperd word in Kenia en Uganda aangetref. Die bevolking het sedert 1962 konstant op 1 000 individue gebly omdat landbou hulle na kleiner gebiede verplaas het. Die IUCN beskou die kameelperd as die minste bedreig al word hulle vir die vleis of vel gejag word. Die vel het ‘n geel agtergrond met kolle van donker-  tot rooibruin.

Giraffa camelopardalis thornicrofti oftewel Rhodesiese kameelperd, kom net in een gebied van Zambië voor en daar is net 420 individue oor, maar daar was altyd min van hulle. In die gebied maak die kameelperd van 93 plantspesies as weiding gebruik. Die kolle word onderskei aan hul onreëlmatige, effens gekartelde rande.

Bronverwysings

Forbes, S. (2025) World Giraffe Day 2025: In case you missed it, now is the time to notice the giraffe Mediaverklaring https://mail.google.com/mail/u/0/#search/giraffe/FMfcgzQbfnzwRlDKjQTRQcnVpPJNvWQV

Green, G. (2025) “Fantastic news”: giraffes are making a comeback – new report reveals which species are on the rise. https://www.discoverwildlife.com/animal-facts/mammals/giraffe-numbers-increasing

Johnson, C. (2025) Soorte kameelperde – Foto’s, name en kenmerke. facinatesanimals.com. https://af.fascinatesanimals.com/25010363-types-of-giraffe-photos-names-and-characteristics

Giraffe Conservation Foundation. https://giraffeconservation.org/state-of-giraffe/

Africa’s giraffe: Spot the difference. https://giraffeconservation.org/wp-content/uploads/2016/03/GCF-Spot-Pattern-Poster-2022-LR.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0