Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 1st December 2025

Kameelperde kry broodnodige lewensaar

By 6 min read
1179 words

giraffe 1

Die kameel-perdnavorsingsprogram en infrastruktuur by die Amanzi-wildreservaat lui ’n nuwe fase van die UV se navorsing oor hierdie ikoniese diere in.

Die Amanzi-wildreservaat buite Brandfort gee kameelperde nog ’n kans op oorlewing. Hoewel kameelperde ikoniese status in Afrika verwerf het, en endemies aan die vasteland is, word hulle al meer bedreig deur habitatverlies weens die mens se bedrywighede.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se nuwe navorsingsprogram oor kameelperde, gesetel in die Amanzi-wildreservaat en wat as die kameelperdnavorsingsentrum (GRC) buite Brandfort bekend staan, het pas afgeskop.

Die fasiliteite op Amanzi is die eerste in die wêreld en die doel daarvan is om internasionale kenners die geleentheid te gee om saam te werk om die kameelperd as ’n spesie te help voortbestaan.

’n Dekade van wetenskaplike deurbrake

Die nuwe en moderne geriewe op Amanzi is vir prof. Francois Deacon aan die UV se departement vee-, wild- en weidingkunde,  wat al saam met sy span ’n dekade lank navorsing oor die kameelperd se gedrag, fisiologie en ekologie doen.

Die GRC bring kennis en tegnologie onder een dak bymekaar waar moderne laboratoriums, ruim habitats en ’n veilige, stresvrye omgewing die navorsers toelaat om kameelperde onder natuurlike omstandighede te bestudeer.

“Hierdie sentrum gee ons die vermoë om navorsing op die hoogste vlak te doen, maar met die diere se welsyn altyd as eerste prioriteit,” verduidelik prof. Deacon. “Ons werk hand aan hand met veeartse, studente en wetenskaplikes om nie net nuwe kennis te skep nie, maar ook om praktiese oplossings te vind vir die bewaring van hierdie ikoniese diere.”

Oor die afgelope sewe jaar het prof. Deacon se span meer as 250 suksesvolle vang- en verdowingsoperasies uitgevoer – elkeen met uiterste sorg en presisie – om die vaardigheid op te bou wat nodig is vir die volgende mylpaal: die eerste embrio-oorplanting in wilde kameelperde.

“Die wêreld se eerste kameelperd-embrio sal hier by Amanzi in ’n veilige en beheerde omgewing ontwikkel word. Wat ons vandag doen, mag nie môre sigbaar wees nie, maar oor twintig jaar sal hierdie navorsing van kardinale belang wees om ’n biobank van lewensvatbare embrio’s en kalwers te vestig – ’n reserwe vir die spesie se oorlewing.”

Prof. Paul Oberholster, dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskap aan die UV, knip die lint tydens die opening van die nuwe kameelperdnavorsingsentrum.

Tegnologie, samewerking en wetenskaplike passie

Die projek is die resultaat van samewerking tussen sowat 12 afdelings van die UV, van dierkunde en entomologie tot chemie en selfs inligtingstegnologie, wat gevorderde sagteware, 3D-modelle en moniteringstelsels ontwikkel.

Hierdie spanpoging strek ook wêreldwyd. Vennootskappe met organisasies soos Save the Giraffes, Absolute Genetics, Ramsem (wat spesialiseer in reproduksie, die insamel en berg van lewendehawe-semen) en die Kroonstad-dierehospitaal help om die UV as ’n leidende sentrum vir grootsoogdier-navorsing in Afrika te vestig.

Kameelperde se voortbestaan bedreig

Volgens die Wêreldbewaringsunie (IUBN), wat kameelperde as kwesbaar verklaar het, het die diere se getalle die afgelope drie dekades met meer as 40% afgeneem. Minder as 100 000 kameelperde oorleef vandag in die natuur.

“Ons het die kundigheid en tegnologie om ’n verskil te maak,” sê prof. Deacon. “Dit is nou tyd om dit te gebruik vir die kameelperd se toekoms en vir ons nageslag.”

’n Droom van sestien jaar

Toe die son oor die Vrystaatse vlaktes sak gedurende die amptelike opening van die GSR op 29 Oktober 2025, het kameelperde rustig oor Amanzi beweeg – die perfekte agtergrond vir ’n gebeurtenis wat hoop simboliseer.

Vir prof. Deacon was dit die vervulling van ’n lang gekoesterde droom. “My reis het 16 jaar gelede in ons nasionale parke begin,” vertel hy. “Tydens my doktorale studies het ek besef hoe min ons eintlik van kameelperde weet. Daardie nuuskierigheid het my na 28 lande geneem – en soveel deure oopgemaak.”

Tot dusver het hy 75 honneursstudente, 15 meesterskandidate en vyf doktorale studente begelei, terwyl hy met 17 universiteite wêreldwyd saamgewerk het.

Prof. Francois Deacon van die UV se departement vee-, wild- en weidingkunde aan die woord gedurende die opening van die Amanzi- kameelperdnavorsingsentrum.

Wetenskap en sorg gaan hand aan hand

Die GSR is ontwerp om gevorderde studies oor kameelperd-anatomie, -genetika, -voortplanting en -fisiologie moontlik te maak. “Ons kan nou met kameelperde werk soos met beeste – met kunsmatige inseminasie, embrio-oorplanting en daaglikse monitering van hul hormone en hitte-siklusse,” sê prof. Deacon.

Volgens dr. Collin Albertyn, ’n veeartsenykundige voortplantingspesialis en direkteur van Absolute Genetics, ’n sentrum wat fokus op die reproduksie van beeste, maak die nuwe benadering ’n groot verskil. “Die groot voordeel is dat die diere nie meer gevang hoef te word in stresvolle situasies nie. Ons kan nou prosedures uitvoer terwyl hulle staan – sonder trauma, sonder angs. Dis ’n ongelooflike stap vorentoe,” sê hy.

Tydsberekening is van die uiterste belang. “Kameelperde verdwyn stadig maar seker. Twintig jaar gelede het hulle in 22 lande voorgekom. Vandag is dit minder as 15 lande. Dit is ’n ernstige waarskuwing,” sê prof. Deacon.

“Ons droom is eenvoudig: om ’n gesonde baba-kameelperd te laat gebore word – die eerste wat deur moderne reproduksie-tegnologie in Suid-Afrika ontstaan het. Dit sal die hoogtepunt wees van jare se werk, en ’n simbool van hoop.”

Wêreldwye kameelperdbewaring

Die projek sou nie moontlik wees sonder die internasionale organisasie Save the Giraffes se finansiële hulp nie, wat die vestiging van die sentrum moontlik gemaak het.

“Ons het hier ’n familie gevind wat dieselfde passie deel, naamlik om kameelperde te red,” sê Jason Pootoolal, vise-president van Save the Giraffes, ’n organisasie sonder winsbejag wat in die VSA gebaseer is. “By Amanzi het ons nie net ’n fasiliteit gebou nie; ons het ’n tuiste geskep vir wetenskaplikes van regoor die wêreld om saam te werk aan die toekoms van hierdie diere.”

Tiffany Soechting, uitvoerende direkteur van die organisasie, voeg by: “Ons voel geëerd om deel te wees van die geskiedkundige gebeurtenis. Hierdie sentrum gaan mylpale bereik wat wêreldwyd hoop sal bring.”

Catherine Land, president van Save the Giraffes, dink terug aan die oorsprong van hierdie bewaringspoging: “Ons reis het begin toe skaars tweeling-kameelperde in Texas gebore is. Meer as tien jaar later werk ons nou saam met ons Suid-Afrikaanse vriende om die spesie se toekoms te verseker.”

Save the Giraffes het reeds gehelp met belangrike navorsingsmylpale – van die bewaring van wilde kameelperd-saad en die rypwording van vroulike eiselle tot die skep van die eerste kunsmatig bevrugte embrio.

Nalatenskap

Fakulteitsleiers aan die UV beskou die totstandkoming van die GSR as ’n waterskeidingsoomblik. Prof. Paul Oberholster, dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe, sê: “Hierdie sentrum is meer as net geboue. Dit simboliseer die UV se toewyding aan volhoubaarheid, wetenskap en diens aan die samelewing.”

Van studies wat van hommeltuie gebruik maak en termiese beeldtegnologie tot anatomiese navorsing en voortplantingseksperimente, het elke aspek van die Amanzi-program een doel voor oë, naamlik om kameelperde vir toekomstige geslagte te bewaar.

“By Amanzi het kameelperde nie net ’n veilige tuiste nie – hulle het ’n toekoms,” sê prof. Deacon. “En danksy die UV, ons studente, ons vennote, en almal wat glo in hierdie missie, is daardie toekoms helderder as ooit tevore.”

Bronverwysing

Brits, M. (2025) Hope for the tallest land mammal rises at the Giraffe Research Facility. University of the Free State.

https://www.ufs.ac.za/templates/news-archive-item/campus-news/2025/october/hope-for-the-tallest-land-mammal-rises-at-the-giraffe-research-facility?fbclid=IwY2xjawNz4ItleHRuA2FlbQIxMABicmlkETFzSmVEbzdoekZmRXc0b0hZAR53SbrKMllg40HN8U7dz8tPrjadKyjF_aLnHEQck2QbJmx5HINYl4mQLcTgNA_aem_myoc8WpSKeIUrXgtrCaTAw

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0