Categories: NewsPublished On: 30th June 2010

K2-Agri:-Groot-saad-kom-uit-die-Klein-Karoo

By 3 min read

Alles begin by saad.Daardie heerlike sappige biefstuk op die braaivleisvuurtjie, ’n lekker vars slaai met ’n vlesige langlewe tamatie- en rooiuiesous en ’n porsie krummelpap. Dit is die standaard waaraan ons Suid-Afrikaners gewoond is. En dit alles begin by saad.

In 1947 toe Klein Karoo Saad nog in die doeke was, sou min mense kon voorsien dat dié lusernsaadmaatskappy teen 2009 sy vlerke so wyd kon sprei dat dit die omvattendste saadmaatskappy in Suid-Afrika sou word.

Van mielies, koring, weidingsgewasse en groente tot blomme word onder die vaandel van Klein Karoo Saadbemarking landwyd versprei. Die maatskappy het twee bene: Afrigro wat verantwoordelik is vir die groente, lusern en blomme, en K2 Agri wat sorg vir al die graan en weidingsgewasse.

K2 Agri het veral naam gemaak met sy bekende sorgumgewasse, Sugergraze, Jumbo en Nutrifeed. Met uitstekende loofproduksie, energie-inhoud en deurlopende groei, het hierdie kultivars ’n nuwe deur oopgemaak vir vleis- en melkproduksie. Dié staatmakers is steeds deel van K2 Agri se saadpakket.

“Dis mos ons ding,” sê Rudi Kuschke, Produksiebestuurder, te Bronkhorstspruit. Hy is ’n kundige op die gebied van winter- en somersweidingsgewasse, maar hy is meer as dit. Rudi werk hard vir gesonde grond. Hy glo dat volhoubare boerdery afhang van dit wat ons terugsit in die grond. “Binne die volgende tien jaar gaan ons ’n rewolusie sien met betrekking tot groenbemesting in Suid-Afrika en K2 Agri is gereed daarvoor.”

Die reeds groeiende behoefte aan gewasse soos hawer en rog het alle saadmaatskappye onverhoeds betrap, maar Rudi beloof dat hulle nou alles gereed het vir die volgende seisoen.

K2 Agri se invloed in die saadmark is onlangs dramaties verstewig met die inkoop van AFGRI-Saad. ’n Mielieboer hoef nou nooit meer verder te kyk nie. Vroeër was daar so ses kultivars op K2 Agri se lys beskikbaar, maar nou het die lys tot ongeveer 30 aangegroei. Wit- en geelmielies, kort-, medium- en langtermyngroeiers, konvensionele basters, BTbasters en Roundup Ready-basters word nou almal onder die naam van K2 Agri verkoop.

Van die basters word plaaslik ontwikkel, maar dit neem sewe jaar om ’n nuwe baster gereed te kry vir kommersiële produksie. Daarom word ook gebruik gemaak van buitelandse tegnologie.

Boere wat al die jare gewoond was aan AFGRI-Saad, hoef glad nie te skrik nie. Die kultivars sal steeds hulle bestaande beskrywings behou. Op die sak staan daar nou net ook: K2 Agri. Saam met K2 Agri gaan die trots van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat hom roem op ’n persoonlike verhouding met sy klante en die beste moontlike nasorgdiens.

Koring is ook nou vir die eerste keer deel van K2 Agri se aanbieding. “Ons weet daar was probleme met saadvoorsiening in die verlede,” sê Rudi, “maar ons sien kans daarvoor om die probleme uit te stryk en om ons koringboere op die voorpunt van tegnologie-ontwikkeling te hou. Oor die koringprys kan ons nie veel doen nie, maar
met insette en produksie kan ons help.”

K2 Agri is nou een van net twee saadmaatskappye in Suid-Afrika wat betrokke is by koringsaad.

Aan die groentekant ontwikkel dinge net so vinnig. ’n Splinternuwe teelplaas word tans te Schoemanshoek net buite Oudtshoorn ontwikkel waar die ontwikkeling van nuwe pampoenkultivars veral aandag sal geniet. Afrigro se nuwe tamatiereeks word ook uitgebrei en nuwe uiesaad word ontwikkel.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0