Jy ken jou veld aan sy gras
Dink net vir een oomblik hoe dit sal wees om in ‘n wêreld sonder gras te leef! Dit is die gewas wat die wydste in die wêreld voorkom met die meeste gebruike en tog is ons kennis van die ryke verskeidenheid grassoorte wat natuurlik in ons streek voorkom klaaglik gebrekkig.
Frits van Oudtshoorn se Gids tot Grasse van Suider-Afrika is al sedert 1991 die boer se grasbybel en as daar nog nie ‘n goed gebruikte eksemplaar op jou tafel of in jou bakkie lê nie, dan is dit tyd om een te bekom.
Die tweede druk van die derde hersiene uitgawe is onlangs deur Briza Uitgewers vrygestel en met sy pragtige omslag en treffende foto’s sal die handige 300-bladsy gids ook ‘n plek op die koffietafel verdien.
Met Gids tot Grasse van Suider-Afrika as jou hulpmaat sal jy dadelik kan sien wanneer jy in die veld loop of die gras wat daar groei voedsaam is of nie.
In die inleiding spel Frits van Oudtshoorn dit so uit: “Grasse is in drie opsigte belangrik – hulle is ‘n belangrike voedselbron vir die mens, speel ‘n belangrike ekologiese rol in die natuur en is uiters effektief om bogrond te stabiliseer en teen erosie te beskerm. Grasse is die eerste plante wat deur mense vir kos aangeplant is. Daar is al gesê dat, as alle plante van die aarde sou verdwyn en net grasse sou oorbly, die mens wel sal kan oorleef.”
In Suider-Afrika kom daar 967 grasspesies voor en 40 van die grassoorte wat natuurlik hier voorkom word internasionaal as weiding of vir hooi aangeplant. Die eerste graan wat uit gras ontwikkel is deur seleksie en versorging, is gars, wat sowat 10 000 jaar gelede in die Midde-Ooste aangeplant is. Koring is daarna in Egipte ontwikkel en mielies in Sentraal-Amerika, gevolg deur rys in Sjina. Suikerriet is ook ‘n grassoort.
Gras word nie net geëet nie, maar ook gebruik vir bouwerk en gebruiksartikels. In die Gids se inleidende hoofstukke word baie nuttige inligting vir boere gegee, soos om te verduidelik wat die verskil tussen soetveld en suurveld is.
Die gidsgedeelte bespreek ‘n grassoort per bladsy met pragtige foto’s wat alles wys, van polle tot sade. Kleursimbole en ‘n voorkomskaart gee met een kyk die belangrike inligting, maar daar is ook ‘n deeglike beskrywing by.
Besoek www.briza.co.za om jou eksemplaar te bestel.
Een gelukkige ProAgri-leser kan ook ‘n eksemplaar van die boek wen. Stuur ‘n e-pos na benine@proagri.co.za met die e-posadresse van nog vyf mense vir ons e-nuusbrief en antwoord die eenvoudige vraag: Wie is die uitgewer van Gids tot Grasse van Suider-Afrika? Inskrywings sluit op Vrydag 24 Mei en die wenner sal op 28 Mei in ProAgri se e-nuusbrief aangekondig word.