Jou-planter-is-die-hart-van-saaiboerdery
’n Goeie planter moet saad en kunsmis deurgaans perfek plaas om ’n goeie oes te verseker. Plantfoute is duur of onmoontlik om reg te stel. Koos le Roux, opsteller van die Meganisasiegids, gee wenke om die regte planter te kies en die beste uit jou planter te put.
Werktempo van planters
Die werktempo van planters is belangrik om te bepaal hoeveel planters nodig is om in die optimum planttyd klaar te plant. ’n Algemene reel wat vir rywydtes van 0,91 m geld, is dat elke plantereenheid 90 hektaar per jaar kan plant.
Tabel 1 toon die aantal hektare wat verskillende grootte planters met gemak in die optimum planttyd kan plant.
Tabel 1: Werktempo’s van planters | ||
Grootte van planter |
Hektaar per plantereenheid |
Aantal hektaar per seisoen |
4 ry x 0,91m | 90 | 360 |
6 ry x 0,91m | 90 | 540 |
8 ry x 0,91m | 90 | 720 |
10 ry x 0,91m | 90 | 900 |
12 ry x 0,91m | 90 | 1 080 |
3 ry x 1,50m | 150 | 450 |
5 ry x 1,50m | 150 | 750 |
![]() |
In die benadering van hierdie voorgestelde werktempo’s is daar ’n mate van oorkapasiteit ingebou om te verseker dat, indien nodig, die planttyd in ’n krisisjaar soos wanneer die reen laat is, nog steeds binne perke afgehandel kan word.
Saadbedvoorbereiding
Saadbedvoorbereiding en die plantaksie loop saam. Daar kan net in die optimale planttyd klaar geplant word as daar elke dag voldoende oppervlakte saadbed voorberei word, ongeag die tipe voorbereiding. Indien daar 50 hektaar per dag geplant word, moet daar ook minstens 50 hektaar saadbed voorberei word. Die beplanning van die totale plantproses speel ’n baie belangrike rol in die sukses van gewasverbouing.
Plantkoste
’n Boer kan nie beplan as hy nie weet wat dit per hektaar kos om te plant nie. Tabel 2 toon die plantkoste van konvensionele en geenbewerkingplanters aan. Die inligting is verkry uit die tweetalige Meganisasiegids/ Mechanisation Guide 2011 wat deur skrywer opgestel is.
Tabel 2: Plantkoste
Plantertipe en grootte |
Werktempo in ha/10-uur dag |
Trekker kW nodig |
Koste rand per hektaar |
3 ry x 1,5 m (k) | 23,40 | 55 – 60 | 153,10 |
4 ry x 0,91 m (k) | 18,70 | 55 – 60 | 189,28 |
3 ry x 2,3 m (k) | 35,80 | 55 – 60 | 130,22 |
4 ry x 0,91 m (g) | 16,00 | 55 – 60 | 329,48 |
6 ry x 0,91 m (k) | 28,00 | 70 – 80 | 194,91 |
6 ry x 0,91 m (g) | 28,00 | 70 – 80 | 235,48 |
5 ry x 1,5 m (k) | 47,20 | 100 – 110 | 147,90 |
8 ry x 0,91 m (k) | 42,20 | 100 – 110 | 183,39 |
8 ry x 0,91 m (g) | 42,20 | 100 – 110 | 264,52 |
10 ry x 0,91 m (g) | 61,00 | 120 – 150 | 193,18 |
12 ry x 0,76 m (g) | 60,74 | 150 – 200 | 236,62 |
k = konvensionele planter; g = geenbewerkingplanter | |||
Versiening van planters
’n Voorvereiste vir suksesvolle plantwerk is dat planters noukeurig nagegaan en herstel moet word. Die planter moet in die land ingestel, gekalibreer en nagegaan word om seker te maak dat hy reg plant.
Die planter se aandryfstelsel bedien meeste van sy leweringsfunksies en beinvloed die uitmeetmeganisme se werk-verrigting. Dit is noodsaaklik om die hele aandryfstelsel, insluitend die ratkaste, behoorlik na te gaan. Maak seker dat die aandryfwiel en alle laers in ’n goeie werkende toestand is en vry loop.
Vervang verslete aandryfratte en kettings en maak seker dat dit nie geroes is nie.
Gaan die koppelaars deeglik na om te verseker dat die aandryfstelsel nie onder las glip nie en dat dit heeltemal ontkoppel wanneer die planter opgelig word. Spankatrolle moet in ’n goeie werkende toestand wees om dryfkettings styf te hou en glip te verhoed.
Maak dit ’n daaglikse roetine om belangrike elemente soos plantdigtheid, spasiering, diepteplasing van saad en kunsmis, en die toedieningtempo van kunsmis en chemikaliee na te gaan. Maak ook seker dat die vastrapwiele behoorlik werk.
![]() |
Saaduitmeetmeganisme
Die saaduitmeetmeganisme beheer die saaidigtheid en spasiering. Die meeste saaduitmeters werk deesdae met lug. Daar is veral twee soorte lugplanters, naamlik vakuum en lugdruk. ’n Vakuumplanter suig die saad teen die saadplaat vas en ’n lugdrukplanter druk die saad teen die saadplaat vas.
Hierdie artikel gebruik vakuumplanters as grondslag om die verskillende aspekte waarna gekyk moet word te bespreek, maar die meeste punte wat bespreek word geld ook vir lugdrukplanters.
Normaalweg werk vakuum- en lugdrukplanters uitstekend vir ’n wye spektrum gewasse en saadgroottes. Kyk na die volgende om deurgaans suksesvolle werkverrigting van die vakuumuitmeetmeganisme te verseker:
Vakuumwaaier en pypleiding
Maak seker dat die hidrouliese aandrywing van die waaier korrek gekoppel is en dat die verlangde vakuumvlakke verseker word deur verstelling van die kontroleklep in die hidrouliese toevoerpyp. Maak ook seker dat geen lug by die vakuumpype se laste lek nie. Maak die vakuumpypleiding gereeld skoon.
Oormatige stof en saadbehandelingschemikalie kan dit geleidelik verstop.
Vakuumseël
Die vakuumseel sorg dat die verlangde vakuumvlak in die uitmeetmeganisme gehandhaaf word. Gaan dit gereeld na. Vervang saadplate wat oormatige slytasie vertoon.
Die korrekte saadplaatkeuse
Daar is ’n wye verskeidenheid saadplate vir ’n groot verskeidenheid gewasse en saadgroottes. Raadpleeg die handboek vir die keuse van die regte saadplaat vir jou saad. Groter, plat sade hanteer gewoonlik moeiliker as ronde saad.
Vakuumvlakke vir verskillende gewastipes en saadgroottes
Die vakuumvlakke wat die handboek vir verskillende gewasse en saadgroottes aanbeveel, dien as vertrekpunt om optimum werkverrigting te verkry. In die meeste gevalle is slegs geringe aanpassing van hierdie aanbevole vakuumvlak nodig om bevredigende werkverrigting te kry. Gaan altyd die spasiering en plantbevolking in die land na om seker te maak jy gebruik die regte plaat en vakuumvlak. As daar tydens plant na ’n ander saadgrootte oorgeslaan word, moet die plaatkeuse en vakuumvlak weer nagegaan word.
Gebruik talk saam met die saad
Talk verhoog uitmeetakkuraatheid omdat dit die plaat en die saad glad en droog hou. Daarsonder kan nat toestande tot onakkuraatheid lei. Talk voorkom ook oormatige slytasie van die vakuumseel en plaat.
Saadbehandeling
Sekere saadbehandelingschemikaliee kan die werkverrigting van die uitmeetmeganisme benadeel. Oliebasis-insekdoders word nie vir vakuumuitmeetmeganismes aanbeveel nie.
Saadbuis en posisionering
Maak seker dat die plantereenheid se saadbuis reg geinstalleer is.
![]() |
Vooroopmakers
Elke soort vooroopmaker se doel is om die kunsmis en saad op so ’n manier in die grond te plaas dat dit optimale ontkieming verseker. ’n Dubbelskottel-eenheid wat ’n “V” in die grond sny, werk goed om kontak tussen die saad en die grond te verseker. Die kunsmisvooroopmaker moet verseker dat die kunsmis reg geplaas word. ’n Goeie riglyn is 50 mm onder die pit en 50 mm weg van die pit.
Vastrapwiele
Die vastrapwiele moet die saad op so ’n manier vastrap dat goeie saad-grondkontak verseker word. Die meeste planters se vastrapwiele is skuins gemonteer, wat verseker dat grond van die kante af teen die saad vasgedruk word. Dit verseker goeie ontkieming en opkoms. Dit is belangrik om die vastrapwiele se laers gereeld na te gaan en te kyk dat die verstelling wat die aggressiwiteit van die vastrapaksie bepaal, goed werk.
Terrein en plantspoed
Moenie te vinnig plant oor ’n rowwe, kluiterige of klipperige saadbed nie. Dit kan die planter en plantereenhede oormatig laat bons.
Aanhaakposisie
Let ook op na die aanhaakposisie van die planter aan die trekkertrekstang om seker te maak dat plantereenhede parallel met die grond loop. Dit verseker ’n konstante saaddiepte.
Ten slotte
Wanneer die planter behoorlik versien en voorberei is, kan elke boer ’n aangename en suksesvolle plantseisoen, met min of geen meganiese probleme, ervaar.