Jou-bemestingsprogram-kan-wen-met-ammoniumsulfaat
![]() |
Ammoniumsulfaat kan algemeen beskou word as ’n baie geskikte aanvullende bron van stikstof (N) terwyl dit in alle swael (S)-behoeftes kan voorsien. Daar bestaan egter ook spesifieke omstandighede waar ammoniumsulfaat as die hoofbron van N meer voordelig as ander stikstofdraers is.
Voor plant uitgestrooi
Ammoniumsulfaat kan in groot hoeveelhede voor plant onder spilpunt-besproeiing uitgestrooi word, veral waar die pH van die grond hoog is en waar groot hoeveelhede plantreste van die vorige gewas in die grond ingewerk is. Ammoniumsulfaat vervlugtig baie min in verhouding tot ander N-draers, maar vervlugtiging kan in alkaliese toestande betekenisvol wees en daarom moet dit verkieslik in die grond ingewerk word.
Ammoniumsulfaat kan as die hoofbron van N breedwerpig voor plant toegedien word vir ’n groter effek op opbrengs as ander N-draers in sekere spesifieke omstandighede (Figuur 1). Hoer opbrengs weens die gebruik van ammoniumsulfaat, soos in Figuur 1 aangedui, kan moontlik aan die volgende toegeskryf word:
- Die gewasreaksie op die toediening van S weens tekorte aan S in die grond.
- Minder N-loging as met ander draers.
In meer alkaliese toestande kan die groter versurende effek van ammoniumsulfaat ander voedingstowwe meer beskikbaar maak, terwyl die gepaardgaande toediening van ’n oormaat S ook ’n oormaat Na kan verplaas.
![]() Figuur 1. Groter effek van ammoniumsulfaat op koring-opbrengs in vergelyking met ander N-draers (’n verskil met 95% sekerheid van b). N-draers uitgestrooi en ingeploeg. Huttongrondvorm, Manganogrondserie wat 9,3% klei tot op 750 MM bevat, met ’n pH(H2O) = 6,4. Verwerkte resultate van Snyman, du T Burger, Laker, 1985. Suid-Afrikaanse Tydskrif Plant Grond, 1985, 2(4), 175 -178. |
Gebruik in plantmengsels
Al die N in ammoniumsulfaat is in die ammonium (NH4+)-vorm terwyl die meeste gewasse die beste op ’n kombinasie van nitraat (NO3-) en ammonium reageer. Verder is die omsetting van gebandplaaste ammonium-N na nitraat- N gewoonlik baie stadig. Relatief klein hoeveelhede ammoniumsulfaat word in sommige korrel- of vloeibare ammoniumnitraatgebaseerde plantmengsels ingemeng, om die sulfaat- en ammoniuminhoud van die produkte te verhoog.
’n Klein bietjie ekstra ammonium in die plantmengsel beteken dat minder van die plantmengsel se N dadelik sal loog. Ammoniumsulfaat as die enigste bron van N in plantmengsels wat gebandplaas word, word nie aanbeveel nie.
Na plant uitgestrooi of gebandplaas
Groot hoeveelhede ammoniumsulfaat kan breedwerpig na plant as hoofbron van N uitgestrooi word of deur spilpunte toegedien word, maar moet dan verkieslik ingewerk word. Die praktyk om soveel as 100 kg ammoniumsulfaat/ ha direk na plant oor mielieplantrye uit te strooi word onderskryf, aangesien dit as versekering teen moontlike loging van die N in plantmengsels dien en omdat daar op die manier aan alle S-behoeftes voldoen kan word. Die bandplasing van ammoniumsulfaat as hoofbron van N in groot hoeveelhede in die grond na plant, word nie aanbeveel nie.
Mengsels van KAN en ammoniumsulfaat in die verhouding van 75% KAN en 25% ammoniumsulfaat, soos in die Sasol Nitro-korrelproduk KANAS, kombineer voordele van albei produkte. Hierdie produk bevat 26,25% N en 6% S. Die verhouding van N:S stem nou ooreen met die behoeftes van baie gewasse met die bykomende voordeel dat N as nitraat sowel as ammonium voorsien word.
’n Vloeibare produk wat uit ’’n mengsel van ammoniumnitraatoplossing en ammoniumsulfaat bestaan, bevat 18% N en 2,4% S. Dit staan bekend as ammoniumsulfaatnitraat (ASN). Relatief groot hoeveelhede KANAS of ASN kan breedwerpig of gebandplaas na plant toegedien word.
Saam met onkruiddoders
Die byvoeging van ammoniumsulfaat het glifosaat-onkruiddodereffektiwiteit met 44 tot 49% verbeter wanneer met benatter/buffers behandel is en met 59% wanneer dit met verspreider/ kleefmiddels behandel is (Nienaber, SA Graan, Mei 2010). Dit kan verwag word dat die effek van ammoniumsulfaat nog groter sal wees as daar baie soute in die water is.
Skakel Sasol Nitro vir meer inligting. Landboukundige navrae: Dr Erik Adriaanse 079-519-7610, erikadri@mweb.co.za. Verkoopsnavrae: Bokkie Cameron 011-344-2211, bokkie.cameron@sasol.com.
Let Wel: Hierdie artikel word gepubliseer as algemene inligting en moet nie as spesifieke advies vertolk word nie. Raadpleeg ’’n gekwalifiseerde landboukundige vir lokaliteitspesifieke toepassings.