Jong wynmaker Mika Engelbrecht: ‘Ek is op die regte pad’
Mika Engelbrecht, die hoofwynmaker by Neethlingshof, is pas aangewys as Diners Club se Jong Wynmaker van die Jaar.
Mika (27), wat op Hermanus grootgeword en in 2015 aan die Hoërskool Hermanus matrikuleer het, meen die toekenning wys sy is waar sy moet wees wanneer sy in ‘n wynkelder is. “Dit is uiteindelik die bewys dat harde wek beloon word. My ouma sê altyd: Wat jy saai, sal jy maai. Ek is op die regte pad.”
Gesin
Haar pa, Gerhard, ‘n senior argitekstegnoloog, het grootgeword in Middelburg, Mpumalanga, en haar ma, Carlouw, ‘n ondersteunings-administrateur vir die Overstrand-munisipaliteit se IKT-afdeling, het grootgeword in Upington.
“Van my pa het ek my kunssinnige streep gekry, terwyl my ma nog altyd die mees georganiseerde een in ons gesin was.”
Haar ouer suster Kaila (29), ‘n onderwyseres by Worcester-Noord Primêre Skool, het pas haar honneurs in Opvoedkunde voltooi en pak volgende jaar haar Meestersgraad aan: “Ek is baie trots op haar!” sê Mika.
Wingerd- en wynkunde
Mika het in 2019 ‘n BScAgric-graad in Wingerd- en Wynkunde aan die Stellenbosch Universiteit behaal. “Die rigting het my tot ‘n mate gekies,” vertel sy. “Toe ek in Hermanus op skool was, het ons ‘n kleinhoewe op Tesselaarsdal gehad, maar nie voltyds daar gewoon nie, maar ek het my passie vir die natuur en die buitelewe ontdek terwyl ek naweke op die plaas deurgebring het. So met die pad deur die Hemel-en-Aarde Vallei het ek my altyd verkyk aan die groot verskeidenheid wingerde langs die pad.
“Voor ek myself kon kry was dit tyd vir groot toekomsbesluite. Tydens die Universiteit van Stellenbosch se Agri-Wetenskappe-opedag dwaal ek daar rond – en ek moet bieg, dit was seker een van die min kere wat hardkoppige-tiener-Mika na ʼn voorstel van haar ma geluister het toe sy vra ‘wat van wynkunde?’”
Baie geïnteresseerd oor wat dit alles behels het ek soos ‘n regte Millennial die internet in gevaar om bietjie navorsing te doen, dit het vanselfsprekend gevoel dat daar nie iets anders kon wees nie. Die kursus het alles gebied waarin ek belangstel: Passie, kreatiwiteit, verbinding met en afhanklikheid van die natuur, die verskeidenheid van take, wetenskap, skakel met mense – nie die gewone nege-tot-vyf werk nie, en dan ook nog seisoenale verskille, ‘n geleentheid om nooit op te hou leer nie en om ‘n internasionale netwerk op te bou.”
In 2023 het sy ‘n verdere kursus Business of Wine by die Universiteit Kaapstad se besigheidskool aangepak wat fokus op die besigheidsaspek van die wynbedryf aangepak.
Mentors
Sy noem ‘n hele string mentors op wat haar beïnvloed het.
De Wet Viljoen, die vorige wynmaker by Neethlingshof en Guy Webber, die vorige wynmaker by Hill & Dale, wat albei ‘n magdom kennis en ervaring het en dit mildelik gedeel het en ook bygedra het tot die bou van waardevolle verbintenisse en verhoudings binne die wynbedryf.
Lauren Behrens, tegniese adviseur by Anchor Oenology, wat altyd praktiese kennis deel en insig bied. “Sy is een van die mees ondersteunende en bemoedigendste mense wat ek ken, wat klein oorwinnings saam met my vier of leiding tydens uitdagings bied. Sy toon groot empatie en begrip teenoor ander,” vertel Mika.
“Ek was gelukkig om ook by André Roux, wynmaker by Rupert & Rothchild en Johan Fourie, die keldermeester van Benguela Cove te leer.”
En dan is daar Hannes van Zyl, die wingerdkundige by Neethlingshof, wat altyd bereid is om sy rykdom van kennis en ervaring rakende die wingerd te deel. “Hy sien telkens die silwer randjie in elke situasie raak, maak nie saak hoe goed of sleg dit is nie. Die gesegde van ‘n boer maak ‘n plan is vir seker geldig, maar Hannes het altyd twee planne. Op sy eie manier herinner hy jou om die lewe nie altyd te ernstig op te neem nie, om stil te staan en wat om jou aangaan in te neem en te geniet. Dit is ‘n voorreg om saam met hom te kan werk.”
Volgens Mika het dié mentors almal ‘n unieke kombinasie van passie, kennis, ervaring, empatie en toewyding tot groei wat ‘n betekenisvolle impak het op die lewens en loopbane van die mense saam met wie hulle werk of voorheen gewerk het.
Neethlingshof
Neethlingshof is vir haar ‘n baie spesiale plek. “Ek het in 2019, as deel van my ses-maande praktiese internskap, my heel eerste pars hier by Neethlingshof voltooi. Dit het my die geleentheid gebied om eerstehandse ondervinding op te doen en met dertien verskillende kultivars te werk,” vertel sy.
Einde Julie 2020 het sy op ‘n korttermynkontrak drie maande lank uitgehelp, waarna sy permanent as assistent-wynmaker aangestel is. “Ek het die geleentheid gekry om in 2021 by Domane Wachau in Oostenryk, en in 2023 by Mas Belles Eaux in Frankryk te gaan pars terwyl ek by Neethlingshof gewerk het. Nou is ek die hoofwynmaker by Neethlingshof, waar ek die 2024-oes aangepak het.”
Op die vraag wat sy geleer het oor die bedryf wat daartoe gelei het dat sy die toekenning ontvang het, haal sy aan:
The Diners Club Winemaker of the Year award is, like our members, characterised by a desire to be ‘always looking, always learning, always arriving.’ Still the most sought-after award since its inception in 1981, our Winemaker’s continue to belong. Since 2001, the Young Winemaker of the Year award continues to inspire, encourage innovation and affords recognition.
“While other awards focus on the wine, the Diners Club Winemaker and Young Winemaker of the Year awards celebrate the skills, talent and dedication of those who actually make the wine. When it comes to making their mark in the South African wine industry, our talented winemakers truly do belong.
“Dit is ‘n ongelooflike platform vir wynmakers en jong wynmakers om wyne ten toon te stel wat met baie aandag, liefde, passie en deursettingsvermoë geproduseer word,” sê sy. Die werk is uitdagend. “Dit is baie harde werk, en lang ure. Goeie beplanning en fokus. Kort voor lank besef jy dat jy tot baie meer in staat is as wat jy moontlik dink.”
Toekomsvisie
Vir nou leef sy in die oomblik en geniet dit waaroor sy passievol is: wyn. “Neem tyd, leer voortdurend langs die pad en produseer selfs beter wyn/e.”
Vir die toekoms beplan sy om die kuns en lekkerte van wynmaak wyer te verken en meer te leer van ander wynproduserende lande buite Suid-Afrika. “Mens weet nie wat die toekoms inhou nie. Wie weet? Dalk is ek nog oor vyf jaar by Neethlingshof besig om wyne te produseer wat ‘n ware weerspieëling van die terroirs is. Die plaas het ongelooflike druiwe wat dit ‘n plesier maak om daarvan wyn te maak,” sê sy.
“Ek is baie leergierige persoon: Dalk in die toekoms verbreed ek my kennis in die bemarkingsrigting of die bestuur van ‘n maatskappy met ‘n MBA!”
Buiten die erkenning wat haar breed laat glimlag, het sy ook R25 000 prysgeld gewen, asook ‘n besoek aan ‘n wynproduserende gebied in die buiteland.