John-Deere-se-9570-STS:-Ontmoet-die-stroopsensasie!
Pure tintelende opgewondenheid borrel deur ’n volbloedboer se are as hy ’n John Deere-groen trekker of stroper sien, maar dis starre, strakke statistiek wat bepaal of ’n werktuig bloot ’n lekkerkry is of ’n winsgewende bate vir die boerdery.
Vir Casper Botha van Castello Boerdery is winsgewendheid die eerste en belangrikste oorweging in alle boerderybesluite. “Ek is gedurig aan die sommetjies maak en ek loop met die Meganisasiegids onder die arm,” sê hy.
Casper sal volstrek nie ’n stroper koop omdat hy van die kleur hou of omdat die enjin vir hom mooi dreun of selfs omdat hy vriende met die verkoopsman is nie.
Vir hom en sy vrou en regterhandvennoot, Estelle, moet die stroper waarde vir geld bied en bydra tot die boerdery se winsgewendheid. Daarom is hulle baie tevrede met Castello se John Deere 9570 STS, wat nou een seisoen mielies en een seisoen koring agter die rug het sonder die geringste probleem.
“Ons het ander goeie stropers ook en op Castello se plase werk ’n stroper baie hard,” sê Casper. “Maar die John Deere stroop skoner, gebruik minder diesel, is meer beweeglik en meer operateursvriendelik, wat belangrik is as jy in ag neem dat ’n man tot tien uur per dag stroop wanneer ons aan die gang is.
“Die John Deere se hidrostatika werk ook gladder, hy is swaar en stewig en die diens is goed.”
Casper is ook beïndruk met die 9570 STS se volledige graanherwinning: “Ek het self gaan loop waar die STS gestroop het en by myself gedink: Hier gaan ’n skaap vrek van die honger. Daar het nie ’n enkele mieliepit op die grond gelê nie.”
Die feit dat alles wat jy aan die stroper wil verstel, elektronies vanuit die kajuit verstel word en dat elke kontrole gerieflik byderhand is, skakel onnodige operateursvermoeienis uit sodat die operateur meer tyd en energie aan stroopwerk kan bestee.
Dit is Castello Boerdery se beleid om net die beste tegnologie aan te skaf. Masjinerie moet hulle werk deeglik doen en mag nooit gaan staan nie. Daarvoor doen hulle voorkomende onderhoud, maar hulle reken ook op goeie diens van die verskaffers. Ook in hierdie opsig is hulle heeltemal tevrede met John Deere.
Die 9570 STS se enorme kapasiteit is geen wonder nie as jy in aanmerking neem dat sy rotorafmetings 600 mm x 3 164 m is, sy konkaafoppervlak 0,9 vierkante meter en sy totale dorsoppervlak 3,55 vierkante meter.
Sy graantenk hou 8 850 liter en hy laai dit oor teen 77,5 liter per sekonde.
Sy sessilinder John Deere-enjin van 6,8 liter lewer 198 kW en ’n kragwip van 219 kW, maar werk baie suining met die 757 liter diesel in sy tenk.
Maar by al hierdie bewese prestasies wat Casper se sommetjies uitmuntend laat klop, bring die 9570 STS as bonus tog ook daardie tintelende gevoel in jou are wat net ’n groen John Deere-masjien kan veroorsaak…