Categories: NewsPublished On: 31st October 2011

John-Deere:-Nog-beter-diens-aan-boere

By 2 min read
Geen wagtyd langer as ‘n dag vir enige onderdeel nie. Dit is die soort diens wat John Deere graag aan Suid-Afrikaanse boere wil lewer en daarom is die maatskappy bereid om miljoene rand te belê in ‘n nuwe pakhuis in Kemptonpark.
 
Die pakhuis ter waarde van R144 miljoen sal na verwagting teen September volgende jaar in gebruik geneem word. Die grondvoorbereiding is reeds aan die gang.
 
Mnr Len Brand, besturende direkteur van John Deere sê die pakhuis word naby die OR Tambo-lughawe gebou sodat die groeiende landboumark verder noord in Afrika ook beter bedien kan word. 
 
In Zambië het John Deere byvoorbeeld reeds vanjaar 200 trekkers verkoop. Daar is ook goeie groei in Mosambiek, Kenia en Ghana en daar word selfs verwag dat Zimbabwe se boerderybedrywighede weer kan optel.
 
Mnr Brand sê die pakhuis sal met die mees moderne pakhuise in Amerika en Duitsland kan kompeteer en sal ‘n volledige diens aan boere lewer, wat ook inligting en probleemoplossing insluit.
 
Hy sê: “Danksy rekenaar- en satelliettegnologie kan selfs die grootste uitdaging vanaf ‘n boer se plaas opgelos word. Ons tegnikus kan van daar af enige navraag elektronies rig en binne 20 minute van raad bedien word, hetsy plaaslik of uit die buiteland.”
 
Om dit moontlik te maak het John Deere reeds drie jaar gelede begin om meer vakleerlinge op te lei. Tussen 30 en 50 tegnici kwalifiseer jaarliks danksy ‘n nuwe verbeterde leerplan. 
 
John Deere in Afrika het die afgelope paar jaar met rasse skrede gegroei. Die personeeltal het van 58 tot 88 gestyg en teen September 2010 wanneer die nuwe pakhuis in gebruik geneem word, sal 150 mense gereed staan om die boere te bedien. Dit sluit personeel in beplande satellietkantore in Kenia en Ghana in.
 
Mnr Brand het die land se boere bedank vir hulle ondersteuning die afgelope jaar. Van November 2010 tot die einde van Augustus is reeds 2 094 trekkers verkoop teenoor die vorige volledige boekjaar se 1 684 trekkers.
 
Besoek www.johndeere.co.za om uit te vind waar jou naaste John Deere diens- en verkooppunt is.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment