John Deere lewer kundiges om die boer beter te dien
Doeltreffende diens steun baie swaar op goed gekwalifiseerde, toegewyde werktuigkundiges, waaraan daar in Suid-Afrika nogal ’n skaarste is.
Toe handelaars John Deere se aandag op die probleem vestig, was die reaksie om sy eie landbouwerktuigkundiges in sy eie Deere Training Academy op te lei. Die eerste sestien vakleerlinge is in April 2008 ingeskryf en die groen en geel bal is onstuitbaar aan die rol.
’n Vennootskap is met ’n geakkrediteerde opleidingsinstansie in Roodepoort aangegaan om ’n intensiewe teoretiese opleidingsprogram van 32 weke aan vakleerlinge te bied.
Die res van die drie jaar opleiding doen die vakleerling by ’n handelaarswerkwinkel en daarna is hy ’n volwaardige, bekwame, kundige vakman wat sorg dat John Deere altyd die boer se beste vriend bly.
In die eerste jaar het 86 bestaande en 13 nuut aangestelde vakleerlinge met die opleiding weggespring. Dit beteken 96 manne wat noukeurig opgelei word om die boer van net die beste diens te voorsien.
In die proses leer hulle ook die nodige lojaliteit, trots en respek aan vir die vermaarde John Deere-handelsmerk.
Daar is nou al vier groepe vakleerlinge deur die eerste fase van die opleiding gestuur.
Dit spreek vanself dat ’n John Deere-opgeleide vakman ’n baie gesogte persoon sal wees en daarom moet daar ook gesorg word dat John Deere die werktuigkundiges wat hy oplei behou.
Daar word nou ’n graderingstelsel inge-span om die verskillende vlakke van werktuigkundiges te bepaal, sodat ’n werktuigkundige ’n werklike loopbaanplan kan volg. Om ’n volgende vlak te bereik, moet sekere kursusse voltooi word.
Elke handelaar wil graag goed gekwalifiseerde tegnici hê, maar dit is ’n duur, tydrowende beslommernis om knaend mense weg te stuur om kursusse by te woon.
Ook hiervoor het John Deere ’n plan bedink: Die John Deere University (JDU) gebruik twee verskillende metodes van virtuele opleiding om tegnici op die mees bekostigbare manier op te lei sonder om die gehalte van die opleiding in te boet.
Met ’n DLC (Distance Learning Class) bied van die slimste slimkoppe by John Deere se fabrieke klasse aan oor sekere toerusting. Die opleiding is interaktief. Leerders kan vrae aan die instrukteur in byvoorbeeld Duitsland vra en onmiddellik antwoorde kry.
Dís nou sinvolle benutting van rekenaar- en kommunikasietegnologie wat opleiding verbeter en verhaas en boonop vir die handelaar ’n groot klomp geld bespaar.
So het John Deere sy handelaarsnetwerk in Suid-Afrika met 176 gekwalifiseerde werktuigkundiges toegerus om sy produkte nog beter te ondersteun en die boer nog beter diens te bied. Daar is ook 90 vakleerlinge in opleiding waarvan 19 nog vanjaar gaan kwalifiseer.
Maar dis nie waar John Deere se verbintenis tot ondersteuning van sy handelaarsnetwerk en eindverbruiker eindig nie. Operateurs wat John Deere-produkte gebruik kan nou ook ’n geakkrediteerde operateursopleidingsprogram volg, wat deur die AgriSETA gesertifiseer is.
Hierdie opleiding sorg dat die operateur die beste diens uit toerusting kry sonder om dit te verniel of te benadeel. Die ervaring leer dat ’n operateur na voltooiing van ’n kursus trotser op die toerusting is en dit beter oppas en gebruik. Meer inligting daaroor, en oor ’n vakleerlingskap by John Deere, kan by Rulie Bronkhorst by 011-437-2600 verkry word.
Praat vandag met jou John Deere-handelaar – waar toegewyde, goed opgeleide personeel regstaan om jou boerdery klopdisselboom te laat loop.