John Deere boender weerbarstige mieliereste in netjiese bale
‘n Kriminele ding om te baal is mieliereste, sê oom Corrie Theron van Samesuiping naby Abrahamskraal, wes van Bloemfontein.
So voedsaam soos hulle is, is mieliereste mislike, koppige, weerspannige rebelle wat hulle nie sommer laat voorsê nie, maar dit hoef jy vir geen boer te vertel nie.
So was dit ook op Samesuiping – totdat oom Corrie ’n John Deere 568 MultiCrop-baalmasjien aangeskaf en teen die mieliereste in die veld gestoot het.
Nou is Samesuiping se mieliereste gedwee en inskiklik en jy hoor nie meer ’n enkele sterk woord by die balery val nie.
Alhoewel oom Corrie sedert 1968 ’n John Deere-boer is, het hy verskeie ander soorte balers ook probeer, maar elke keer het die mieliereste die geveg oortuigend gewen.
Toe hy die MultiCrop plaas toe laat kom om te kyk wat hy kan maak, het hy hom en ’n ander baler, wat hy vandag as tweede beste in die mark beskou, langs mekaar op die land gesit en hulle gelyk laat wegspring.
Die ander baler het dapper probeer, maar toe hy sy tweede stekelrige baal uitskop, toe draai die John Deere al op die onderent van die land 700 tree verder met dertig perfekte, stewige bale wat agter hom lê.
“Ek het nie ’n baler gesien wat saam met hierdie ding kan baal nie,” sê oom Corrie, en jy kan maar gaan kyk – sulke netjiese, digte bale het jy nog nie van mieliereste gesien nie.
Die eienskappe van die baler wat oom Corrie die meeste beïndruk is:
Die opteller wat ’n optelvermoë soos geen ander baler het nie. Dit is natuurlik te danke aan sy breë bek en sy optelroller wat laag loop om alles op te tel en ’n klein deursnit het om niks te laat val nie. (Die voerwurms is weer groot sodat materiaal nie daarom vasdraai nie.)
Die baler se bindmeganisme is feitlik onfeilbaar. Sy tou word van bo af gevoer sodat daar geen versperrings of koekery is nie, en jy kan die tou stel presies soos jy wil hê: Baie tou of bietjie, meer in die middel of meer aan die kante.
Jy kan enige materiaal, selfs mieliereste, so styf baal as wat jy wil. Oom Corrie se bale is dig en kompak en weeg 250 kilogram elk. Geen water of lug kan die bale binnedring nie, wat verseker dat Samesuiping se Bonsmaras altyd net die beste, heerlikste, gesondste mieliereste kry om hulle soos konings deur die winter te laat lewe.
Die geheim van die MultiCrop se sukses en veelsydigheid is sy baalkamer wat 7 rollers het om netjiese, digte bale te verseker en ’n latvoerketting om te verseker dat geen materiaal, hoe droog ook al, ooit in die 568 se baalkamer sal loop stilstaan nie.
Bale se deursnit kan van 1,25 tot 1,30 meter verstel word en ’n eenvoudige knop verstel die digtheid presies soos jy dit wil hê.
Al die vasmaakaksies word vanuit die kajuit beheer en die baalmasjien verg die minimum onderhoud en aandag. Die kettings word outomaties geolie en die ghriesnippels is bymekaar gerangskik om tyd en moeite te bespaar.
Natuurlik sal so ’n voortreflike baler oral in aanvraag wees, en daarom is hy gemaak om teen 40 kmu op die pad van plaas na plaas te blits om oral perfekte bale te gaan maak.
Dis ’n kommerlose baler met die beste uithouvermoë, duursaamheid en doeltreffendheid, sê oom Corrie. Dis maklik om hom te verstel en daarna is dit maklik om heeldag lank perfekte bale te maak.
Met ’n John Deere 568 MultiCrop klim ’n operateur vir niks anders van die trekker af as om bene te rek nie.
As jy ook jou mieliereste tot inskiklikheid wil bring, of enige ander materiaal perfek wil baal, praat vandag nog met jou John Deere-handelaar.