JDI en John Deere steeds ‘n gedugte span ná 65 jaar

DSC_0423
Die gewilde John Deere Implemente (JDI)-uitstalling was weer ‘n groot hoogtepunt by NAMPO Kaap vanjaar. JDI is in 1960 gestig en is dus die oudste John Deere-agent in die land.
Hulle versprei ‘n wye reeks werktuie om die boer se lewe makliker en winsgewender te maak.
Geskiedenis en agtergrond van JD Implemente
Emilius Tomlinson is die besturende direkteur van JDI. Sy oupagrootjie het in 1896 begin handeldryf as DM Tomlinson & Kie. Dié saak is destyds gestig om Massey-trekkers en landboutoerusting aan die boere in die Overberg-gebied te verkoop.JDI is amptelik in 1960 onder leiding van Emilius se pa en oom in Swellendam gestig. Die daaruitspruitende John Deere-agentskap is reeds die afgelope 65 jaar in bedryf en is die oudste John Deere-agentskap in Suid-Afrika, iets waarop die Tomlinson-familie baie trots is.
Teen 1994 het die Swellendam-werkswinkels so gegroei dat nuwe geboue opgerig moes word en die saak het uitgebrei na die buurdorp, Bredasdorp. Tien jaar later, in 2004, het John Deere Suid-Afrika Emilius genader oor die uitbreiding van die JDI-takke na die Oos-Kaap.
Emilius se twee seuns, Emile en Jason, is deel van die onderneming. Die oudste, Emile het in 2010 by die saak aangesluit en die jongste, Jason, het in 2012 gevolg.
Jason Tomlinson, operasionele bestuurder van JDI, vertel: “Dit is ‘n voorreg vir ons twee broers om saam met my pa die onderneming te bestuur en dit wat hulle begin het te kan voortsit. My pa het ons groen grootgemaak. Ons het takke in die Suid- en Oos-Kaap wat strek van Cradock tot Bredasdorp. Ons missie is om op ‘n volhoubare wyse produkte aan die landbousektor en aan ons boere te verskaf, en hulle bekend te stel aan die nuutste landboutegnologie op die mark.”
Barend van Heerden, gebiedsbestuurder van John Deere vir die Wes- en Oos-Kaap vertel: “Ons is trots op JDI, ons handelaar vir die Wes- en Oos-Kaap wat vir ons uitstekende diens in hierdie gebied lewer en sorg dat ons klante altyd gelukkig en tevrede is.”
- Jason Tomlinson, operasionele bestuurder van JD Implemente, en Barend van Heerden, areabestuurder van John Deere vir die Wes- en Oos-Kaap.
- Die presisieboerdery-afdeling by JDI se uitstalling het talle boere gelok, waar die span gereed gestaan het om boere se vrae te beantwoord.
Hoogtepunte by NAMPO Kaap
“Ons is trots om vanjaar by NAMPO Kaap ons 2680 H-hoëspoeddis aan boere hier bekend te stel, asook ons 540 M-laaigraaf. Soos by NAMPO Bothaville te siene was, wil ons boere in hierdie deel van die land ook bekendstel aan GUSS (Global Unmanned Spray System), wat ook sy eerste verskyning aan die Wes-Kaap maak.”
John Deere het ook vir die eerste keer by NAMPO Kaap hulle geel masjiene aan boere hier bekendgestel.
Barend sluit af: “Dit is lekker om weer hier by NAMPO Kaap betrokke te kan wees, waar die graan so goed lyk hierdie jaar, waar ons ook kan agterkom dat die boere in die omgewing positief en optimisties is oor die oeste die jaar. Ons is hier om dit saam met julle te vier en ‘n verskil te maak waar ons kan.”
Vir meer inligting, kontak JDI by (+27)28-514-2700 of stuur ‘n e-pos na emilius.tomlinson@jdimplemente.net besoek ook hulle webwerf by www.jdimplemente.co.za vir meer inligting.
- John Deere se geel masjiene het ook vir die eerste keer by NAMPO Kaap gepronk.
- Die Tomlinson-gesin: Jason, Emile en Emilius. (Fotobron: JDI webtuiste).
- GUSS (Global Unmanned Spray System) het sy eerste verskyning aan die Wes-Kaap by NAMPO Kaap gemaak.
Kyk die video hier vir ‘n paar hoogtepunte: