Januarie-verkope van trekkers en stropers lyk beter
Trekker- en stroperverkope het ‘n toename in Januarie getoon, wat volgens SAAMA (South African Agricultural Machinery Association) optimisme in die mark weerspieël.
Die Suid-Afrikaanse Landboumasjienerie-assosiasie berig dat trekkerverkope van 428 eenhede in Januarie 8,1% hoër was as die 396 eenhede wat in Januarie verlede jaar verkoop is. Stroperverkope van 10 eenhede is aansienlik hoër as die 6 eenhede wat verlede Januarie verkoop is.
Mnr Lane Reynolds, voorsitter van SAAMA sê die verkope in Januarie was bemoedigend en weerspieël die huidige optimisme in die mark vir landboumasjinerie. Hy sê: “Dit bly ’n kopersmark en met die onlangse verswakking van die rand, is daar kommer dat die pryse van ingevoerde toerusting binnekort sal begin styg. Pryse vir mielies, sojaboon en koring het in die afgelope maande verbeter en dit dra ook by tot optimisme in die mark.”
Volgens mnr Reynolds gebruik boere die toegankliker bankfinansiering en huidige geleenthede in die mark om te belê in nuwe kapitaaltoerusting.
Volgens ramings in die bedryf sal trekkerverkope vir 2011 ongeveer 5 000 tot 5 200 eenhede wees, soortgelyk aan verkope verlede jaar.