Jakkalse-glimlag-breed
Rooijakkalse in die Wes-Kaap is nog ‘n geleentheid gegun om voort te gaan met hulle verwoestingswerk onder skaapkuddes.
Die langverwagte plan wat op die tafel geplaas is, behels dat ‘n taakspan eers navorsing in die Wes-Kaap moet doen. Die provinsiale minister van landbou het vroeër die Kaapse Natuurbewaringsowerhede en ander belanghebbendes tot die einde van Januarie kans gegee om met ‘n plan vorendag te kom om die probleem op te los.
Die uiteinde van die saak is egter dat ‘n taakspan bestaande uit afgevaardigdes van die departemente van landbou en natuurbewaring, Cape Nature, Agri Wes-Kaap, asook ‘n aantal deskundiges eers navorsing moet doen. Die plan is nie baie positief deur die voorsitter van die Nasionale Wolprodusente-organisasie, mnr Petrus de Wet, ontvang nie. Hy het in ‘n onderhoud op Radio Pretoria gesê so ‘n taakspan is tydmors.
Mnr De Wet is ook die voorsitter van die roofdierbestuursforum. Hy sê hulle het al ‘n paar jaar gelede aan navorsers van die Vrystaatse Universiteit opdrag gegee om die saak te ondersoek. “Ons weet wat die probleem is – daar is net te veel jakkalse. Wat ons nodig het is ondersteuning deur die owerhede en nie beperkings wat deur ‘n permitstelsel op ons gelê word nie.”
In die Wes-Kaap moet boere elke drie maande gaan aansoek doen om permitte om probleemdiere te jag. Mnr De Wet sê ander metodes om skape te beskerm werk nie, want die jakkalse pas net hulle jagtegnieke aan en hulle doodmaakmetodes word ook al wreder.
Roofdiere en veral rooijakkelse veroorsaak elke jaar sowat R1,4 miljard se skade.